’n Derde van Suid-Afrika se o.21-vrouehokkiespan wat in Desember in Chili aan die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) se Junior Vroue-wêreldbekertoernooi gaan deelneem, is Bloemfonteiners.
Boonop is vier van die spelers leerlinge of oudleerlinge van die Hoër Meisieskool Oranje en twee van Eunice High School.
Dit is net weer ’n bewys van hoe goed dié twee skole se hokkiespanne die afgelope paar jaar is.
Germarie Spershott (Oranje se kaptein 2023), Ané Janse van Vuuren (kaptein 2022 en 2021), Mikkela le Roux (kaptein 2020) en Leané McLaren (matriek 2022) is die vier spelers van Oranje wat in die span ingesluit is.
Taheera Augousti en Kayla Swarts, wat al in Suid-Afrika se senior spanne vir Suid-Afrika die hokkiestok geswaai het, is van die Eunice High School.
Die Suid-Afrikaanse span, wat agtste is op die junior FIH se ranglys is, sal teen die verdedigende kampioen, Nederland, sowel as Chili en Australië in groep B speel.
Dit is die agste agtereenvolgende jaar dat Suid-Afrika aan dié toernooi deelneem nadat hulle op die Afrika-kampioenskap in Egipte tydens die Junior Afrika-beker as kampioene gekroon is.





