Talle nuwighede is bekendgestel toe Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) se 117de bestaansjaar op 27 Mei gevier is.
Op die kongres wat by A Lodge in Bloemfontein aangebied is, is klem gelê op vernuwing en dié liefdadigheidsorganisasie se nuwe bemarkingsmateriaal; met die gelukbringer Mossa wat die eerste keer te sien was.
Mossa, ‘n vrolike mossie met ‘n diep boodskap, het die gaste se hart gesteel en word ‘n simbool van hoop vir jonk en oud. Ria Malan, direkteur van maatskaplike dienste by die VVA, sê in ‘n wêreld waar mense toenemend moedeloos raak, herinner Mossa ons aan hoop.

Die VVA, wat reeds sedert 1908 hoop en versorging in gemeenskappe oor die Vrystaat heen bring, het op die kongres gewys dat die werk wat dié organisasie doen, toepaslik bly; boonop dat hy gereed is om op nuwe en skeppende maniere op sy nalatenskap voort te bou.
Betrokkenes by verskeie diensvertakkinge wat by die VVA ingesluit is, het die verrigtinge bygewoon, en die dag was gevul met opwinding, kleur, lag en ballonne – alles teen die agtergrond van die VVA se kernboodskap: om positiewe verandering mee te bring waar dit die nodigste is.

VVA Plaaskombuis het ‘n spesiaal gebakte verjaardagkoek voorsien, met Mossa wat trots bo-op gepryk het.
“Die VVA het gewys dat ons met geloof, vasberadenheid en die regte boodskap – en nou met Mossa aan ons sy – gereed is om nog honderde harte aan te raak,” sê Malan oor die kongres.
You must be logged in to post a comment.