Vir die soveelste keer is inwoners moedeloos oor leë krane in die Mangaung-metro.
Om verskillende redes het die suide én die noorde geen water nie, of swak waterdruk.
Ondersoek word ingestel na die dood van Petros “Chunky” Ntsube, ’n werknemer van Bloemwater, wat Sondag (20/03) ’n pyp by die pompstasie van die Welbedachtdam nagegaan en in ’n watermassa verdrink het.
Dit kom nadat beplande herstelwerk verlede week aan dié pypleiding gedoen is.
Eers wanneer die ondersoek voltooi is, kan water weer na die Brandkop-reservoir gepomp word.
Rossouw Botes, DA-raadslid, sê dié situasie beteken inwoners van die suide van die stad wat water van Bloemwater ontvang, het teen Woensdagoggend (23/ 03) reeds meestal ses dae lank min of geen water nie gehad.
Pieter Lotriet, DA-raadslid van wyk 21 in die noorde van die stad, het Woensdag gesê dit klink asof water in die Arboretum-reservoir effens gestyg het en asof die reservoir in Heuwelsig dalk gou weer vol genoeg sou wees om water na Dan Pienaar en omgewing te voer.