Hoopdraers vir onbaatsugtige diens vereer

Bloemfonteinse maatskaplike werker Marlize Ramsden van Childline Free State, is een van 11 maatskaplike werkers oor die land heen wat aangewys is as Solidariteit Helpende Hand se Hoopdraers vir 2023.


Bloemfonteinse maatskaplike werker Marlize Ramsden van Childline Free State, is een van 11 maatskaplike werkers oor die land heen wat aangewys is as Solidariteit Helpende Hand se Hoopdraers vir 2023.

Op 21 Maart is internasionale Maatskaplikewerkdag gevier en daarom het Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerke besluit om hulde aan hierdie onbaat­sugtige professie te bring.

Dit is die tweede jaar dat hierdie eerbewyse oorhandig word, en die doel is om openbare erkenning te gee aan maatskaplike werkers se onblusbare passie vir hul werk ondanks moeilike omstandighede.

Volgens Christia Potgieter, hoof van die Maatskaplikewerkdienste-afdeling by Solidariteit Helpende Hand, word maatskaplike werkers daagliks blootgestel aan die ontstellende werklikheid van mishandeling, verwaarlosing en ander vorme van onreg wat aan die orde van die dag is. Hulle deins egter nie daarvoor terug nie en veg in die voorste linies ter wille van weerlose groepe in die samelewing.

Lede van die publiek kon ’n maatskaplike werker in hul gemeenskap vir die eerbewys benoem en ’n professionele paneel het die benoemings beoordeel.

“Om ’n maatskaplike werker te wees verg baie meer as om ’n paar take gedurende kantoorure te verrig. Maatskaplike werkers speel ’n noodsaaklike rol om gesonde gemeenskappe te bou, en hierdie dikwels ondankbare beroep is daarop gerig om mense in nood te ondersteun, weerloses te beveilig en maatskaplike ongeregtighede te bestry,” sê Potgieter.

Dapper, toegewyd, empaties, roepingsgedrewe en waagmoedig is maar enkele woorde wat mense in dié beroep beskryf, meen sy.

“Dikwels gaan die invloed wat hierdie edel beroep op individue, gesinne en gemeenskappe het egter ongesiens verby.”

Bianca Smit van Solidariteit se beroepsnetwerke sê met hierdie eerbewys wil hulle maatskaplike werkers salueer en erkenning gee omdat hulle ’n stem is vir diegene wat nie vir hulself kan praat nie.

“Hulle bring hoop waar ellendige toestande heers. Maatskaplike werkers is die lig in iemand se donker. Hulle is nie net ligdraers in die gemeenskap nie, maar ware hoopdraers in die gemeenskap. Baie geluk aan die Hoopdraers vir 2023,” sê Smit.

Vanjaar se Hoopdraers is:

  • Ramona van der Spuy van die Gauteng-streek;
  • Yolande van Rooyen van die Oos-Kaap-streek;
  • Shanie Boshoff van die Wes-Kaap-streek;
  • Annelie Jeffery van die Platinum-streek;
  • Marlize Ramsden van die Vrystaat-streek;
  • Nicolene Cordier van die Noordwes-streek;
  • Elrisa Opperman van die Oos-Rand-streek;
  • Emsie Malan van die Noord-Kaap-streek;
  • Magda de Vaal van die Wes-Rand- en Vaaldriehoek-streek;
  • Joyce Ahlers van die Limpopo-streek; en
  • Marlene Janse van Vuuren van die Mpumalanga- en KZN-Noord-streek.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.