Bloemfontein se polsslag jaag, en sy mense kan met reg effens uitasem voel wanneer hulle op Maart terugkyk.

Die magdom sport- en gemeenskapsbedrywighede wat die afgelope paar naweke in die stad aangebied is, het die aktiewes van liggaam en gees ’n kans gegee om hul pandemie-roes af te skud en te wys wat in hulle steek.

Alles van ’n reeks skoleatletiek­byeenkomste, en verlede Woensdag se Grand Prix-byeenkoms van Atletiek Suid-Afrika, tot die KANSA-aflos is hier gehou.

Nasionaal het fikse Bloem­fonteiners onder meer aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem en aan die einde van dié week vertrek die stad se laerskool­­meisies wat in hokkie uitblink na Oos-Londen vir die gewilde All Girls-fees.

Selfs die heel onsportiewe Sentraal24-subredakteur wat hierdie rubriek sit en tik, het die woeligheid aan eie lyf gevoel.

Boonop, terwyl ek in die middel van Maart twee dae lank my stram bene gepamperlang het ná die besigheidsaflos wat deur The Running Edge en Sentraal24 op die Emoya-landgoed aangebied is, het ek die eerste keer werklik waardering ontwikkel vir die voordele wat so ’n byeenkoms inhou.

Vooraf het ek my hand besonder huiwerig opgesteek om deel te neem – ek kon nie gou genoeg, en herhaaldelik genoeg, almal daaraan herinner dat ek sou stap en beslis nié draf nie.

Bloot omdat dit nie sou sin maak om weg te hardloop vir ’n uitdaging waarin ek juis nie gedwing wou word om te hardloop nie, het ek die Saterdag-oggend aangetree.

’n Hele paar waarhede het my sedertdien getref, elkeen wat bygedra het tot die groot besluit: Ek wil ook só stap, moeiteloos en onverklaarbaar boeiend.

Hiermee ’n woordjie van dank aan die vietse vrou wat my iewers in daardie stuk veld verbygesteek het. Die gemak waarmee jy jou pas volgehou het, was ’n openbaring teenoor my treë wat my maar net nie sterk genoeg kon vorentoe dryf nie.

Ek het gestap, en jy het ook maar net gestap; die verskil is dat jy eindelik skoon weg was.

Ek het my benoudheid oor afstand en onfiksheid vooraf gesus met die gedagte dat die CityRun-geleenthede wat Saterdae gehou word, oor 5 km strek. Heelwat mense wat graag ’n fiksheids­program wil aanpak, kom sommer hiermee aan die gang. Met daardie feit in my agterkop het ek heel gemaklik gevoel dat ek dit sou haal.

Agterna het ek nog ’n groot waarheid besef – elke minuut of meter se voorbereiding sou die hele ervaring net nog lekkerder gemaak het.

Hoor my lied: Van nou af sal ek met elke geleentheid stap en drentel, voetslaan, sluip, skuifel en wandel totdat ek soos daardie flukse stapper kan aanstryk.

You need to be Logged In to leave a comment.