Hospitaal vier 25 j. van omgee

Met die Bloemcare Psigiatriese Hospitaal wat vandeesweek sy 25ste bestaansjaar vier, is ’n nuwe afdeling wat ’n omvangryke diens aan buite-pasiënte lewer, aangekondig. (Lees berig hiernaas).


Met die Bloemcare Psigiatriese Hospitaal wat vandeesweek sy 25ste bestaansjaar vier, is ’n nuwe afdeling wat ’n omvangryke diens aan buite-pasiënte lewer, aangekondig. (Lees berig hiernaas).

Die voormalige hospitaalbestuurder, Magueriet Botha, het Maandag tydens ’n geselligheid by die hospitaal meer vertel oor die pad wat dié hospitaal sedert sy begindae in 1999 gestap het.

Die hospitaal is 25 jaar gelede begin as ’n sub-akute versorgingsentrum.

“Die idee was om ’n gaping te vul vir pasiënte wat uit die hospitaal ontslaan word en nog versorging nodig het. Sub-akute eenhede was die antwoord om koste-effektiewe behandeling wat deur ’n siekefondse gedek word, te bied.”

Botha sê die hospitaal was nie aanvanklik van plan om psigiatriese pasiënte in te neem nie, maar met die sluiting van die psigiatriese eenheid in die Hospitaalpark-hospitaal, het die psigiaters by Bloemcare om hulp aangeklop. “Soos wat ons al meer psigiatriese pasiënte ingeneem het, het ons besef Bloemcare se terrein met sy wye, oop ruimtes en mooi tuine bied die ideale plek vir mense wat hierdie soort behandeling ondergaan.”

Die behoefte aan ’n psigiatriese hospitaal het verder toegeneem met die sluiting van Bloemfontein Mediclinic se psigiatriese eenheid met geen toegewyde private psigiatriese beddens wat in die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap en Noordwes beskikbaar was nie.

“Voeg daartoe by dat geestesgesondheid ’n siekte is wat al meer mense begin raak het. Pasiënte wat ly aan depressie en angstigheid kan nie in dieselfde kamer as terminaal siek pasiënte behandel kon word nie. Bloemcare het begin om nog sale vir psigiatriese pasiënte in te rig.”

In 2005 het Bloemcare gegroei tot ’n hospitaal met 70 beddens waarvan die meeste pasiënte psigiatrie-pasiënte was.

Op 13 Maart 2007 het die direkteure van Bloemcare besluit om slegs te fokus op psigiatrie wat dit die eerste private psigiatriese hospitaal in die Vrystaat gemaak het.

Talle toevoegings het gevolg soos die 8-bed tiener-eenheid bekend as pals@bloemcare wat in 2010 geopen het en offices@bloemcare wat praktyke van sielkundiges, psigiaters, fisioterapeute, ’n dieëtkundige, somatoloog asook ’n slaaplaboratorium huisves.

Nog ’n saal met 40 beddens is in 2012 ingerig wat die hospitaal tot 116 beddens uitgebrei het. Nog plek vir terapeute is in 2021 in die vorm van Bloemwell tot die Bloemcare-familie gevoeg.

Dr. Elzaan Coetzee, ’n spesialis in Ketamien, bestuur die Ketamien-kliniek by Bloemcare.

Sy het in kort verduidelik watter groot rol Ketamien kan speel in die behandeling van pyn asook die groot hulpmiddel wat dit kan wees in die behandeling van depressie.

Tydens die geselligheid het Bloemcare twee rolstoele aan leerlinge van die Tswellang Spesiale Skool geskenk.

Hannetjie Styl, senior terapeut by Tswellang, sê die rolstoele is ’n wonderlike geskenk.

“Ons het 100 kinders by Tswellang wat rolstoele gebruik en hulle moet elke twee jaar ’n nuwe een kry soos hulle groei.

Ons is van donasies afhanklik om vir al die kinders rolstoele te verskaf,” het sy haar dank uitgespreek.

Barbara Steenkamp, hospitaalbestuurder, sê Bloemcare vier die hele week fees om sy 25ste bestaansjaar te vier en personeel te bedank vir hul harde werk.

You need to be Logged In to leave a comment.