Danksy ’n skenking van 150 pare skoolskoene spog behoeftige leerlinge aan die Laerskool Joe Solomon in Heidedal nou met blinknuwe voetgoed.
Die skoene, wat van herwinbare materiaal gemaak is, is deur die personeel van Cure-daghospitale as deel van hul Mandeladag-bedrywighede aan skole oor die land heen geskenk.
Die plaaslike hospitaal se personeel het die skoene op 22 Julie aan kinders oorhandig.
Christie Malan, woordvoerder van die Cure-daghospitaal in Bloemfontein, sê dié groep het vanjaar ’n grootse poging aangewend om skoolskoene aan behoeftige leerlinge in skole oor die land heen te skenk.
Dit is deur skenkings van personeel, verskaffers, dokters, pasiënte en ander betrokkenes by die hospitaal moontlik gemaak.