Bloemfontein se Bon Hotel Sentraal het ’n internasionale prys gewen tydens die World Travel Market wat op 11 April in Kaapstad plaasgevind het.
Dié skou vervang die toerisme-indaba wat vroeër in Durban aangebied is.
Toerisme-instellings van oor Afrika heen is in verskeie afdelings vereer.
Op grond van die verskil wat Bon Hotel Sentraal in die gemeenskap maak, asook sy bemagtiging van personeel, is dié Bloemfonteinse hotel as die wenner in die volhoubaarheidsafdeling aangewys.
Volgens Pieter van Rooyen, bestuurder van die Bon-hotel, is dit uitsonderlik dat ’n driesterhotel so ’n groot eerbewys ontvang.
“Die eerbewys plaas Bloemfontein weer ’n slag in die kollig. Dit beteken baie vir Bloemfontein om so ’n eerbewys te ontvang.”
Tydens die aankondiging is gesê dat die hotel vereer word omdat 51% van sy aandele aan personeel behoort.
Dit is verder uitgewys dat die hotel daarin glo om sy personeel te bemagtig en bevorder.
Die hotel is ook nou betrokke by die niewinsgewende organisasie Torings van Hoop, wat naby die hotel geleë is. Dié organisasie werk om die lewensgehalte van behoeftiges in die middestad te verbeter.
“Hierdie eerbewys is ’n inspirasie vir ons personeel,” sê van Rooyen.
“Dit gee eer aan die werk van Torings van Hoop en is ook tot voordeel van die groter Bloemfontein.”
- Finaliste sluit in die V&A Waterfront, We are Victoria Falls-onderneming, Rwanda-ontwikkelingsraad, Kilimandjaro-portuurassistentvereniging en die Green Safaris-groep.