Die vakansie is hier, maar nog voor die skole hul hekke vir die einde van nog ’n jaar gesluit het, het ma’s begin kop krap oor hoe hulle hul kroos gaan besig hou.
Bloemfontein het gelukkig ’n hele paar opsies vir dié wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry.
- Die Gwen Bali-waterpark is net buite Bloemfontein geleë en bied hope waterpret vir oud en jonk. Kontak hulle vooraf om die koste vir die spesifieke dag te bevestig. Daar is ook braaigeriewe en ’n snoepwinkel.
- Die DBV in Bloemfontein hou weer sy jaarlikse Liggiefees op die organisasie se terrein in McGregorstraat. Dié fees word vanjaar van 2 tot 23 Desember elke aand van 18:00 tot 21:00 gehou. Verskeie kunstenaars soos Ricus Nel, Nádine, Juanita du Plessis, Barbara Ray en Billy Forrest sal ook optree. Om die vertonings by te woon kos R50 per persoon.
- As jy ’n lui-lekker middag onder die bome wil geniet, pak gerus jou piekniekmandjie en gaan ontspan op die groot grasperke by die Oliewenhuis-kunsmuseum. Daar is ook kunsuitstallings om te besigtig.
- Vir kinders met baie energie, is Jumpers Lane net die antwoord. Dié vermaaklikheidsentrum het trampoliens, set-set-bane, ’n waterpark en vele meer wat sal verseker kinders raak nie verveeld nie. Daar is ook ’n restaurant.