Hou VS dop in toernooi

Die Vrystaat sal vanjaar ongetwyfeld ’n faktor wees in die o.18-Cravenweek-toernooi, met ’n klomp spelers wat oudergewoonte die kleure van Grey-kollege vir die provinsiale oranje truie gaan verruil.


Die Vrystaat sal vanjaar ongetwyfeld ’n faktor wees in die o.18-Cravenweek-toernooi, met ’n klomp spelers wat oudergewoonte die kleure van Grey-kollege vir die provinsiale oranje truie gaan verruil.

Altesaam 13 spelers in die beginspan is op die skoolbanke by die Vrystaatse Springbok-fabriek, met nog ses wat plaasvervangers is.

Die Vrystaters, wat ook twee verteenwoordigers van die Hoër Tegniese Skool Louis Botha en een elk van die Hoërskool Sentraal en Landboudal in hul geledere het, het in hul onlangse opwarmingswedstryde die Griffons met 45 – 26 laat les opsê.

Die Vrystaat het ook die Griekwas met 43 – 7 geklop.

Die Grey-senterpaar van Alec McIntyre en Ulrich Wahl se kombinasie in die middelveld kan vanjaar verskeie spanne hoof­brekens besorg in die toernooi wat op 4 Julie by Rondebosch Boys’ High School in Kaapstad begin. Dan is die skrumskakel Caleb Abrahams vanjaar deurgaans nog een van Grey-kollege se troefkaarte en is hy vertroud met sy skakelmaat, Bradley Giddy.

Dit is egter ’n taai uitdaging wat eerste op die Vrystaat wag. Hy pak die Suidwestelike Distrikte in sy openingswedstryd van die toernooi.

Die SWD-Arende bestaan uitsluitlik uit spelers van die Hoërskool Outeniqua en die Hoër Landbouskool Oakdale. Die Suid-Kapenaars spog dus reeds met verskeie beproefde spelers.

Die Poubloues het ’n deeglike balans in hul span, met ses spelers elk van die aartsvyande die Hoërskool Diamantveld en die Hoërskool Noord-Kaap, asook nog twee derby-spanne, die Hoërskool Upington en die Hoërskool Duineveld, wat elk vier spelers bydra.

Die Hoërskool Kalahari en die Hoërskool Gariep is ook baie trots op die insluiting van onderskeidelik Phillip Visser (slot) en Duwayne Lubbe (vleuel) in die Griekwas se span.

Welkom-Gimnasium het tien leerlinge in die Griffons se groep, terwyl die Hoërskool Trio (4), die Hoërskool Witteberg (3) en die Hoërskool Voortrekker (2) ook met verteenwoordiging in die span spog.

Die Griffons kom in hul eerste wedstryd teen die Luiperds te staan.

Die Vrystaat-span bestaan uit Shimi Molibeli (Grey), Alfondso Isaacs (Grey), Ulrich Wahl (Grey), Alec McIntre (Grey), Jermairon Ruiters (Sentraal), Bradley Giddy (Grey), Caleb Abrahams (Grey), JJ Theron (Grey), Lukas Meyer (Grey), T. Choga (HTS Louis Botha), JF van Heerden (Grey), Kamogelo Makholane (Grey), Casper Badenhorst (Grey), Nick Greyling (Grey) en Musa Moshoaliba (Grey). Die plaasvervangers is: Kamo Mathibedi (Grey), Lesedi Jafta (Grey), Jean Erasmus (Grey), Ranon Fouché (Grey), Jean-Henri Smit (Grey), Vuyani Moore (Landboudal), Benito Goede (Grey) en Furqaan Hayat-Naqvi (HTS Louis Botha).

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.