Huise onder water langs Modderrivier naby Maselspoort

Die Modderrivier by die Maselspoort-aanleg beur al 3 m oor die damwal en talle huise in dié omgewing het waterskade opgedoen.


Van die huise langs die Modderrivier by plekke soos die Sunset River Resort is kombuiskashoogte onder water ná deurdringende reën die afgelope paar dae.

So vertel inwoners langs die rivier. Een inwoner het ‘n video gemaak van hoe haar patio-tuinstel in die rivier af dryf.

Reg Krohn, eienaar van die restaurant by Maselspoort, sê die water is vandag hoër as vorige kere vanjaar.

“Talle plekke is onder water, selfs as dit nou net liggies reën,” sê hy. Sy een konferensiekamer is vandag reeds die sewende keer vanjaar onder water.

“Dit gebeur omdat die munisipaliteit nie die sluise wil oopmaak nie.” Hy sê die Mockesdam is 90% toegeslik en veroorsaak dat baie meer water in die Modderrivier af vloei. Hy sê die trappe aan die rivierkant van die kompleks waar die restaurant en konferensiekamers op Maselspoort is, is halfpad onder water.

Volgens ‘n verklaring van die Mangaung-metro loop die water nou al 3 m oor die damwal.

In ‘n verklaring waarsku Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, inwoners langs die Modderrivier, Mockesdam en Maselspoort dat die water bly styg.

“Gemeenskappe en boere langs die riviere moet hul meubels en toerusting verwyder omdat die Modderrivier bly opstoot.”

Hy waarsku ook voetgangers om nie die Moderrivier tussen Maselspoort en Glen en laer af in die Modderrivier by die Krugersdrifdam oor te steek nie.

Die R64 tussen Bloemfontein en die Krugersdrifdam, is op verskeie plekke onder water, sê Henk Smit van die Bainsvlei-inwonersforum.

“Mense moet asb die pad vermy. Ons moes al verskeie voertuie daar gaan uitsleep.”

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê hy het van Oktober tot nou al meer as 700 mm reën gemeet. Bloemfontein se gemiddelde reënval per jaar is net meer as 545 mm.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.