Die stertjies swaai vrolik wanneer besoekers kom kuier by Huistoe, ‘n niewinsgewende dierereddingsorganisasie buite Bloemfontein.
Lientjie de Klerk het Huistoe in 2014 begin om ‘n verskil te maak in die lewe van honde wat verwaarloos word.
Twee van die onlangse mooi stories van reddings is dié van Milah en Lily wat in Gariepdam uit moeilike omstandighede gered is en na die hondehawe in Roodewal gebring is.

Toe die span van Huistoe vir Milah, ‘n wit labrador, met babahondjies kry, was sy net vel en been. Saam met haar het hulle Lily, wat erg mishandel is, gered.
Lizelle von Berg, wat haar onlangs as vrywilliger by Huistoe se span aangesluit het, het groot drome van hoe om ‘n goeie huis vir honde soos Milah en Lily te kry. Sy sê die meeste honde wat na Huistoe kom, het emosionele trauma beleef en het gedragsuitdagings weens verwaarlosing, mishandeling en verwerping.
“Ons wil graag ‘n sensoriese tuin op die perseel inrig waar die honde in ‘n veilige ruimte, wat ontwerp is om honde se sintuie te stimuleer en genesing bevorder, kan beweeg.”
Sy sê so ‘n tuin hou ‘n wye reeks wetenskaplik gegronde voordele in, soos om honde kalm te maak, hulle te help om van stres ontslae te raak en om geleidelik emosionele weerstand op te bou.
Lizelle sê baie van die honde wat na Huistoe kom, ken nie speelgoed nie en is ook nie gewoond daaraan om met ‘n leiband te stap nie. Daarom sal ‘n omheinde gebied waar hulle kan hardloop en in ‘n nie-bedreigende omgewing kan leer om weer met mense in kontak te kom, soveel beteken.

“Dit sal boonop mense wat graag ‘n hond hier wil aanneem, die geleentheid gee om deel te word van die hond se rehabilitasie-reis en hulle kans gee om mekaar in so ‘n omgewing te leer ken.”
Huistoe het nou sowat 50 honde – daar is baba-hondjies, maar ook heelwat ouer honde. Lizelle sê ongelukkig verkies die meeste mense wat honde wil aanneem, ‘n jong hond.
“Nie almal sien kans vir ‘n hond wat getraumatiseer is nie. Tog is baie van die honde wat gered is, liefdevol en wonderlike troeteldiere.”
Sy sê een van die opsies is om ‘n pleegouer vir ‘n hond van Huistoe te word.
By Huistoe is netjiese hout-hondehokke en ook ‘n huis wat ingerig is vir die honde wat gered is. Huistoe het boonop ‘n afdeling vir katte op ‘n ander perseel.
Om die sensoriese hondetuin in te rig benodig Huistoe gras, stene, plante wat veilig is vir honde, kruie, rotse, klippe en omheining.
Lizelle en die span van Huistoe glo elke dier verdien ‘n liefdevolle huis.
You must be logged in to post a comment.