’n Suksesvolle veiling ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds is op 21 Maart in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gehou.
Talle interessante versamelaarsartikels was deel van die veiling.
Pieter Erasmus, afslaer van Bainsvlei-afslaers wat die veiling behartig het, sê van die topverkopers was onder meer ’n stel versamelaarsmunte uit 1952, wat goue munte ingesluit het wat vir R12 000 verkoop is.
’n Kruithoring wat volgens dr. Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog dateer, is vir R2 800 verkoop.
Betsie Roux en haar span wat die veiling gereël het, sê dit is ’n lekker manier om die jaar te begin.
’n Kommissie wat uit die koop- en verkoopprys van elke artikel op die veiling verhaal word, word aan die Kersfonds geskenk.
Roux en haar span is reeds hard aan die reël aan die volgende veiling, wat op Vrydag 14 April plaasvind.
Dit is ’n opdragveiling van die eienaar. Pragtige antieke meubels en los ware sal by die Libra-meenthuiskompleks nr. 9 in David Bothasingel, Heuwelsig, aangebied word.
Die huisveiling begin om 13:00 en behoort tot so 16:00 te duur.
Rig navrae oor die veiling aan Roux deur haar by 082-413-9275 te bel.

- Lewer ’n bydrae aan Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds by die volgende Nedbank-rekening: Volksblad Kersfonds, 102-891-9980, takkode 117-134. E-pos strokie na annemarie@engo.co.za.