Die laaste stukke van die legkaart van die raaiselagtige moord op Barry Baars (55), die “uiters veiligheids­bewuste” boer van Ficksburg, val nou inmekaar in die jongste klagstaat waarin die staat sê R3,5 miljoen in kontant is die nag van sy moord van hom geroof.

Een van die beskuldigdes is Baars se huiswerker, Angelina (Angie) Ledwaba (40), met wie hy, volgens die staat, in ’n seksuele verhouding op sy Daskop-gasteplaas was.

Sy en haar drie medebeskuldigdes het pas in ’n voorverhoor in die hooggeregs­hof in Bloemfontein verskyn.

Hul verhoor is deur regterpresident Cagney Musi vir twee weke op die hofrol in Augustus en September in die rondgaande hooggeregshof in Ficksburg geplaas.

Die staat sê in ’n opsomming van sy saak tydens die moordnag van 30 Oktober 2017 was Ledwaba ook in ’n seksuele verhouding met een van haar medebeskuldigdes, Abel Phalatsi (32), wat op Daskop gewerk het, en ook voorheen met ’n ander medebeskuldigde, Thabiso Motaung (45) van Senekal.

Die vierde beskuldigde is Mpho Hlalele (37), ’n familielid van Motaung.

Die staat sal waarskynlik in die verhoor beweer Ledwaba het die kombuisdeur van die dubbelverdiepinghuis, wat soos ’n fort beveilig was, vir die ander oopgemaak.

Die staat sê Baars het haar dié aand by ’n vulstasie in Ficksburg gaan oplaai en hulle is op Daskop na sy slaap­kamer.

Luidens verklarings van Ledwaba vroeër in haar mislukte aansoek om borgtog het sy en Baars intiem verkeer toe sy ’n voertuig op die werf gehoor het.

Baars is vyf keer geskiet. Een skoot het sy onderkaak weggeskiet.

Twee ander skote was in sy bors en een in die nek.

Die ander skoot het hom tussen sy bene van onder af getref.

Die staat sê sy lyk is die oggend op sy bed gekry.

Ledwaba het aan die polisie gesê sy het hom daar gekry.

Sy en Phalatsi was ook die oggend op die plaas.

Sy het glo verskillende weergawes van waar sy die vorige aand was aan die polisie gegee.

Na verneem word, was die agterdeur op ’n skreef oop, die alarmstelsel was af en Baars se opgeleide waghonde was in twee kamers toegemaak toe werkers die volgende oggend daar aangekom het.

Die staat sê verskeie selfoonoproepe is voor en ná die moord tussen die beskuldigdes gemaak.

Veral Ledwaba het dié dag met haar gewese minnaar, Motaung, gepraat.

Motaung het op sy beurt weer verskeie kere met Hlalele gepraat en Phalatsi en Motaung het kort ná die moord met mekaar gepraat.

Inligting wat van data van ’n selfoontoring bekom is, toon dat al vier die aand van die moord op of naby Daskop was, sê die staat.

Die staat sê die beskuldigdes het al enkele dae voor die moord saamgesweer en beplan om Baars van die geld, sy selfoon, Glock-pistool en ’n houer vir kringtelevisie te beroof.

Benewens die moord- en roofaanklagte, word die beskuldigdes ook van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Luidens vroeëre berigte is die instapkluis in Baars se slaapkamer op die boonste verdieping oopgemaak.

Die sleutel was nog in die deur en binne was verskeie vuurwapens.

Baars, ’n oudpolisieman, het die Daskop-gasteplaas sewe jaar voor sy dood gekoop en ’n gastehuis en wild-, bees- en saaiboerdery bedryf.

Hy was lid van die Harmonia-boerevereniging en ook ’n lid van die Vrystaat-jagtersvereniging se Visierskerftak.

Adv. Johan de Nysschen kla aan.

Dawie Reyneke van Regshulp SA tree vir die beskuldigdes op.

You need to be Logged In to leave a comment.