BLOEMFONTEIN – ‘n Groot rugbylegende in die Vrystaat Tat Botha (79) is Sondag ná ‘n lang siekte oorlede.
Botha was ‘n legenariese rugbyafrigter, administrateur en pilaar in die Vrystaatse rugby-gemeenskap, insluitend ‘n afrigter by Kovsies-rugby. Hy was bekend daarvoor dat hy talentvolle rugbyspelers wat later vir die Springbokke sou speel, uit die geledere van die Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat gespeel het, geÏdentifiseer het.
Cheetahs Rugby het op Facebook hulde gebring en gesê sy dood raak almal wat die eer gehad het om hom te ken, van hom kon leer en sy passie vir rugby gedeel het.
“Oom Tat het sy lewe aan rugby gewy en met onversetlike toewyding nie net spanne oor generasies heen gevorm nie, maar ook die spelers en hul leiers. Sy wysheid, mentorskap en liefde vir die sport en ‘n ewigdurende op almal op die veld gelaat by elke organisasie waarby hy betrokke was.”
Herhold Verster, voormalige besturende direkteur van Vrystaat-Cheetahs, sê Botha was ‘n baie geliefde en gerespekteerde rugbybestuurder.
“Ons het vroeër vir baie jare saam gewerk by Kovsies-rugbyklub. Tat was ‘n uitstaande rugby-beampte. Mense onthou hom vir sy persoonlikheid en hoe hy met mense omgegaan het.”
Verster sê dit is danksy Tat dat talle Kovsie-rugbyspelers later vir die Cheetahs en uiteindelik vir die Springbokke uitgedraf het. Hy sê dit sluit spelers in soos Bismarck en Jannie du Plessis, Helgard Müller, Naka Drotské, Brenden Venter, Ollie le Roux, Chris Badenhorst en talle ander.
Hy sê Botha het ook ‘n groot bydrae gemaak as afrigter van die Cheetahs se o.21 en o.20-spanne.
“Ons sal hom onthou vir sy warm, aangename persoonlikheid en sy omgee vir mense.”
Sy lewensviering vind op Vrydag 5 Desember om 10:00 op Shimlapark by die UV plaas.


