Daar lê vir hom ’n groot lekkerte daarin om mense beter te laat voel. Om te sien hoe pasiënte nuwe hoop kry.
Só sê dr. Fanie Meyer, een van die stigterslede en uitvoerende hoof van die psigiatriese hospitaal M-Care Optima.
Meyer verhuis na Stellenbosch, waar M-Care Optima @Rustenvrede drie jaar gelede geopen is.
“Ek pendel die afgelope drie jaar heen en weer tussen Bloemfontein en Stellenbosch,” sê hy.
Die hospitaal in die Wes-Kaap fokus op volwassenes en tieners, maar beskik ook oor een van die min kinder-eenhede in die land.
“Ek wil vir die volgende tyd my aandag daar fokus, terwyl ek steeds by die bestuur van die hospitaal in Bloemfontein betrokke sal wees.”
Meyer en dr. Herman Jordaan het M-Care Optima in Bloemfontein in Februarie 2010 geopen.
Meyer, wat passievol oor psigiatrie is, sê hulle sien die hospitaal as hul teater.
“Die lewe is swaar genoeg. Mense wat dit nodig het, moet kan hulp en raad kry.”
Die Bloemfontein-hospitaal beskik oor 64 beddens, asook ’n tienereenheid met 12 beddens.
Die hospitaal het ’n groot korps psigiaters, sielkundiges en arbeidsterapeute. Groepsprogramme word oor twee weke aangebied. ’n Bykomende week met aanvullende sessies is ook beskikbaar vir pasiënte wat dit nodig het.
Meyer en die ander direkteure, drs. Jordaan, Christo du Plessis, Ino Timile en Frans Brink, het heelwat planne om die hospitaal in Bloemfontein van krag tot krag te laat gaan.
Nog 36 beddens is in die vooruitsig, en Meyer wil graag ook hier ’n kindereenheid inrig.