In Athalia se huis in Roselaan is van links Lizelle van Zyl (vrywilliger), Eunace Vermaak (inwoner) en past. Tess Janse van Vuuren. Foto: Lientjie Mentz


Talle inwoners van die Athalia-uitreik se huise is deur hul familie verstoot en gaan die feestyd in met net die mense wat saam met hulle in een van dié huise woon.

Ans Coetzee, direkteur van Athalia, sê verwerping is iets waarmee talle inwoners worstel.

Athalia bied huisvesting vir 160 inwoners in agt huise oor Bloemfontein heen.

Die meeste van die inwoners ontvang pensioen van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa).

Vrywilligers, waaronder past. Tess Janse van Vuuren en Lizelle van Zyl, het beradingsessies met die inwoners begin hou.

“Baie van die inwoners het groot seer omdat hul kinders nie meer by hulle kom kuier nie. Hulle ervaar verwerping, wat lei na verbittering. Ons het begin om met die inwoners ’n pad te stap,” sê Janse van Vuuren.

“Ons beleef regtig dat ons ’n verskil maak in inwoners se lewe.”

Die vrywilligers doen ook sterwens­begeleiding wanneer inwoners aan die einde van hul pad op aarde kom.

Van Zyl sê die geestelike werk wat sy nou deeltyds by Athalia doen, het oor haar pad gekom.

“Baie van die gesprekke wat ons met die inwoners voer, gaan oor vergifnis. Mense moet leer om hulself en ander te vergewe.”

Janse van Vuuren sê dit is vir hulle belangrik dat die bejaardes by die huise weer hul waardigheid en hul vreugde in die Here vind.

Met Kersfees om die draai, sal Athalia graag al die inwoners ’n bietjie wil bederf. Coetzee sê enkele inwoners gaan na hul familie toe, maar die meeste bly tuis.

Beloftes is reeds gemaak van ’n Kersparty vir twee van die huise, maar daar is behoefte om vir die ander inwoners iets spesiaals te doen.

Van Zyl sê daar is altyd behoefte aan toiletware by die huise, asook bordspeletjies, speelkaarte, ou tydskrifte en inkleurpotlode.

“Ons hoop die gemeenskap kan ons help om hierdie Kersfees vir inwoners spesiaal te maak.”

Daar is ook ’n behoefte aan plaagbeheer by een van die huise.

Rig navrae aan Coetzee by 082-467-6471.

You need to be Logged In to leave a comment.