Sy het nog nie eens die eerste paaiement op haar nuwe stoof betaal nie, toe kyk sy toe hoe slikwater haar huis met alles daarin voor haar oë wegvee.
Só vertel Masabata Mohajane, een van sowat 140 inwoners van Jagersfontein wat tydelik op die Sandstone Sleeper-landgoed buite Bloemfontein tuisgaan.
Masabata se man, Winston, was op die Sondag van 11 September omstreeks 06:00 net weg werk toe by die diamantmyn op die dorp, toe sy ’n vreemde geluid hoor. Sy het gedink hy het die ketel aan vergeet.
“Ek het besef die geluid kom van buite, en toe ek gaan kyk, sien ek slik kom soos ’n waterval oor die damwal.”
Sy het haar dogter, Boitemogelo (12), aan die hand gegryp en begin hardloop. Toe hulle terugkyk, het die slik eers die eerste huis, en toe hul huis, in Charlesville weggevee.
“Net die fondament van die huis het oorgebly,” vertel sy oor haar baksteenhuis en al hul besittings wat weg is.
Die gemeenskap van Bloemfontein het die afgelope twee weke ná die slikramp hoop aan die inwoners van Jagersfontein gebring.
Verskeie organisasies het vragte voorraad na die dorp geneem.
Jacques Meiring, algemene bestuurder van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA), sê dié vereniging het soos in die tyd van Covid-19 ’n hand uitgereik om met noodverligting te help.
“Die gemeenskap in Bloemfontein het hul omgee gewys deur kos, klere en komberse in oorvloed te skenk,” sê Jacques.
Alles wat ingesamel is, is met die samewerking van die NG kerk Fichardtpark geberg voordat die ses ton voorraad Vrydag (16/09) na Jagersfontein geneem is. Die vragmotor is deur ’n plaaslike groothandelaar geborg.
Jacques sê nog twee bakkies met ’n sleepwa met voorraad is daarna weer na die dorp geneem.
Dit is daar deur ds. Cor Potgieter van die NG kerk Jagersfontein in ontvangs geneem van waar dit versprei word.
“Ons wil graag hoop aan die inwoners van Jagersfontein bring en glo die skenking sal die nood waarin die mense nou verkeer, verlig,” sê Jacques.
Pick n Pay Reizis Square het ook vragte voorraad na Jagersfontein gestuur, met die hulp van H&M Packaging en die markagente.
Met talle ondernemings soos die RSA Markagente, die Mangaung-varsproduktemark en Mads Fresh Produce in De Aar se ondersteuning is onder meer twee ton groente geskenk.
Ook National Crime Assist (NCA) het koördineringswerk gedoen met ondernemings en kerke in die stad wat voorraad na die NG kerk Jagersfontein geneem het.
Graham Wansbury van die Sandstone Sleeper-landgoed sê Jagersfontein Development, aan wie die myn behoort, het hom die Sondag waarop die ramp plaasgevind het, gekontak en gevra of hy van die mense wat nou haweloos is, sou kon huisves.
Hy het dadelik in sy bussie geklim en inwoners van Jagersfontein na Bloemfontein begin aanry.
Aanvanklik het 200 mense hier tuisgegaan, maar talle is intussen terug na Jagersfontein vir werk. Talle skoliere is ook terug, waar hulle nou in die koshuis bly.
Graham sê Bloemfonteiners het kos, klere en ander skenkings by sy onderneming Tents for Africa afgelewer. Hy berg nou alles vir die duur van die Jagersfonteiners se verblyf daar.