’n Nuwigheid het onlangs buite die huise van Athalia-uitreik in Bloemfontein verskyn toe hulle splinternuwe naambordjies gekry het.
Ans Coetzee, stigter en bestuurder van die nege Athalia-huise, sê hulle is baie dankbaar vir Vox Business, wat die bordjies gemaak het.
“Dit lyk sommer nou spoggerig,” sê sy.
Benewens die naambord voor elk van die huise, het Doep du Plessis van Vox ’n nuwe bordjie vir Athalia se kantoor in Roselaan laat maak.
“Ons het op elke bordjie ’n QR-kode geplaas waardeur mense inligting oor Athalia kan kry en ’n bydrae kan maak,” vertel Du Plessis.
Du Plessis sê Athalia-uitreik is ’n baken van hoop vir bejaardes, en hulle bied ’n veilige en koesterende omgewing.
“Borgskappe en skenkings van die gemeenskap en plaaslike ondernemings is uiters belangrik vir die voortbestaan van Athalia-uitreik,” sê hy.
Coetzee sê die 170 inwoners kry almal ’n klein inkomste van R2 100 van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa).
“Ons voorsien elke inwoner van drie etes per dag, wat uitwerk op 15 300 etes vir almal per maand. Die inwoners wat nie versorging ontvang nie, kry ook elkeen sakgeld.
“Athalia kry geen subsidie van die staat nie en ons is afhanklik van inwoners se Sassa-inkomste, maar ook bydraes van die families en skenkings om personeel se salarisse te betaal en vir al die ander uitgawes soos kruideniersware, huur, elektrisiteit en water.”
Sy sê die Athalia-huis in Universitas is onlangs verkoop nadat die huurkontrak van vyf jaar verstryk het.
“Daar was dadelik uitkoms in die vorm van ’n huis wat die welsynsorganisasie Resore a Life in Jacobstraat 32 gehuur het, wat ons kon oorneem. Ons het die huis in Jacobsstraat oorgeneem en ons inwoners kon in plekke wat daar in dié huis was, gehuisves word.”
Sy verduidelik Athalia is gestig om die ekonomiese nood waarin talle bejaardes en mense met gestremdhede hulle bevind te help verlig, ondanks die klein inkomste van Sassa en die hoë lewenskoste.
“Ons wil vir inwoners ’n veilige, skoon omgewing skep waar hulle sonder geldelike kommer kan bly.”
Sy sê Athalia werk saam met ander organisasies in die stad om die nood te verlig.