Die visekanselier en hoof van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, prof. Pamela Dube, het hulpmiddels aan twee studente oorhandig.
Hulle is Kojang Magret Motloung, wat ‘n diploma in kantoorbestuur en tegnologie ontvang het, en Bongani Mazendela, ‘n derdejaarstudent in dieselfde vakrigting.
Volgens Dube is die SUT vasbeslote om ‘n inklusiewe omgewing en ondersteuning te bied waar alle studente kan uitblink en grootsheid kan bereik.
Dit was ‘n dag vol emosies en opgewondenheid vir Motloung aangesien sy nie net haar kwalifikasie verwerf het nie, maar ook ‘n hulpmiddel ontvang het wat haar onafhanklikheid en deelname aan daaglikse akademiese aktiwiteite sal verbeter.
Die oorhandiging was ter herdenking van Neurodiversiteitsweek, ‘n wêreldwye veldtog wat stereotipes en wanopvattings oor neurologiese verskille uitdaag. Die viering het verder ten doel om bewustheid oor neurodiversiteit in die universiteitsgemeenskap te skep, met die fokus op neuroverskille en die talente van diegene in die neurodiverse gemeenskap.
Dube het bygevoeg dat die bewustheid ook daarop gemik is om te transformeer hoe neurodivergente individue waargeneem word en hoe hulle ondersteun kan word, terwyl ‘n meer inklusiewe en billike kultuur geskep word wat verskille vier en elke individu bemagtig.
Oor die jare is ondersteuning soos hulpmiddels aan studente met gestremdhede gegee deur finansiering van private skenkers en die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS).
“Ons rol as ‘n universiteit is om leergeriewe te verskaf, ondersteuning te bied en die vaardighede en talente van ons neurodivergente studente te ontketen.”
Motloung kom van Petrus Steyn, ‘n klein boerderygemeenskap. Sy is die eersgeborene van vier kinders en die eerste wat in die gesin gegradueer het.
“Ek is dankbaar teenoor die SUT vir al die ondersteuning en om te verseker dat studente met gestremdhede nie versaak word nie. Hierdie toestel sal my onafhanklikheid en deelname aan my akademiese aktiwiteite verder verbeter,” het Motloung gesê.
