Hý vou nie onder druk

Bloemfonteiner Ian Carney het onder meer ’n tweede plek verower op die Suid-Afrikaanse armdrukkampioenskapsbyeenkoms wat op 27 en 28 Mei in Springs beslis is.


Bloemfonteiner Ian Carney het onder meer ’n tweede plek verower op die Suid-Afrikaanse armdrukkampioenskapsbyeenkoms wat op 27 en 28 Mei in Springs beslis is.

Armdruk is ’n ou tydverdryf wat in 2002 sy voete in Suid-Afrika as sportsoort begin vind het.

Eers in 2019 is dit as sportsoort erken.

Carney is lid van die Greenside-armdrukklub in Langenhovenpark, wat deesdae vinnig lede werf.

As ’n inwoner van Huis Karee op die Kovsie-kampus het Carney jare gelede dikwels saam met ’n vriend armgedruk.

“Ek het nooit gedink dat ek dit as sportsoort sou beoefen en daarin sou presteer nie.”

Op die byeenkoms het hy meegeding in die afdeling vir mans o.105 kg, waarin hy ’n tweede plek behaal het in regterarmdruk en ’n vyfde in linkerarmdruk.

Hy is die enigste van sowat 20 deelnemers in die streek wat aan die nasionale byeenkoms deelgeneem het. Sowat 150 deelnemers van alle ouderdomsgroepe en gewigklasse van oor die land heen was in aksie.

Die wenners in die verskillende gewigsafdelings kwalifiseer om in September aan die wêreld­kampioenskapsbyeenkoms in Frankryk te gaan deelneem.

Carney verduidelik dat die Vrystaat goed tred hou met die land se toparmdrukkers as dit by krag kom.

“Ons kom kort op die variasie van toepaslike tegnieke wat gebruik kan word.”

Die Greenside-armdrukklub is begin toe ’n groepie vriende begin het om die sportsoort te beoefen. Hulle het eers later uitgevind dat daar ’n nasionale federasie vir dié sport bestaan en begin om aan kompetisies deel te neem.

Carney sê hulle werk hard om weg te doen met die tradisionele verband wat getrek word van armdruk as ’n kroegsport.

“Armdruk is ’n gesinsport waarin mans, vroue en jeugdiges van alle gewigsafdelings verwelkom word.”

Jürgen Smith

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.