Ná haar ma se skielike dood, het Anné Pretorius besef hoe kosbaar die herinneringe is wat haar ma vir haar neergeskryf het.
“Vandag is die lewensverhaal wat sy destyds vir my opgeskryf het, my kosbaarste erfstuk van haar.”
Anné, wat in Marble Hall grootgeword het, het lank saam met haar man, Stéfan, by Toitskraal in Mpumalanga geboer. Nadat hulle die eiendom verkoop het, het hulle na Pretoria verhuis waar Anné baie tyd spandeer het aan liefdadigheid en haar jarelange liefde vir skryf.
“My twee dogters Enya (15) en Lua (13) is my trots en bron van energie. Net soos my ma haar herinneringe neergeskryf het asook haar verhouding met my gedeel het, wat ek andersinds nie sou weet nie, wou ek dit graag met my kinders ook deel.”
Sy kon nie iets kry, wat die opskryf van sulke memoirs vergemaklik nie en het toe self kreatief geraak,
“Met Memoires van jou moeder wil ek dit vir ander ma’s maklik maak om te onthou en neer te skryf, want ek glo dat dit vir ander van net soveel waarde sal wees as vir my.”
Die hardebandboek Memoires van jou Moeder: ’n Selfskryf Nalatenskapjoernaal is deur Naledi uitgegee.
In die joernaal is daar plek vir foto’s en ander aandenkings.
Die boek is versier met pragtige, gepaste kunswerke deur Marié Vermeulen-Breedt.
Daar is ook kosbare gedigte van onder meer Antjie Krog, Karmen Wiid, en Anné self, asook deur Lua.
Memoirs van jou moeder is die perfekte Moedersdaggeskenk, wat vir jou en jou Ma van groot waarde sal wees.
Dit is beskikbaar by die meeste boekwinkels asook aanlyn by memoirebooks.co.za.
Een leser staan die kans om ’n kopie van Memoirs van jou moeder te wen. Skryf in op Bloemnuus se Facebookblad.