IEB slaagsyfer hoër as vorige jaar

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) spog vanjaar met ’n 98,42%-slaagsyfer, effens hoër in vergelyking met verlede jaar se slaagsyfer van 98,39%.


Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) spog vanjaar met ’n 98,42%-slaagsyfer, effens hoër in vergelyking met verlede jaar se slaagsyfer van 98,39%.

Die uitslae van onafhanklike skole wat die IEB se sillabus volg asook die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (SACAI) wat by uitstek aanlyn-onderriginstansies is, is Woensdag (18/01) bekend gemaak.

Alle kandidate wat die IEB se eksamen geslaag het, het ’n slaagpunt behaal wat goed genoeg is om aan ’n tersiêre instansie in een van drie vlakke te studeer: Daar het 89,32% toegang verkry om graadstudies te doen, 7,52% om te kwalifiseer vir diplomastudies en 1,75% toegang tot studies op die Hoër Sertifikaat-vlak.

Daar het 12 580 heeltydse en 945 deeltydse kandidate in 262 eksamensentra oor Suidelike Afrika heen die IEB se Nasionale Senior Sertifikaat in Oktober en November geskryf.

In die Vrystaat is daar vyf onafhanklike skole wat dié kurrikulum volg met 174 leerlinge wat die eksamen geskryf het.

Die Dankbaar CVO-skool in Bloemfontein het vier matrikulante gehad en het vir die 19de jaar agtereenvolgens ’n 100%-matriekslaagsyfer gehad.

Willem-Hendrik van den Berg het ’n A-simbool in wiskunde-geletterdheid behaal. Al vier die matrieks het vir graadstudie aan ’n universiteit gekwalifiseer.

Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, sê 2022 se matrieks het uitstekend gevaar.

“Daar is genoeg geloofwaardige navorsing oor die impak van die Covid-19 gedoen om ons insig te gee oor waar ons is met die uittree uit die pandemie amper drie jaar later. Dit is regverdig om te sê dat 2022 se leerlinge die hardste deur die impak van die pandemie getref is toe hulle in 2020 in gr. 10 was. Verskeie strategieë is in plek gestel in poging om die uitdagings te oorkom.”

Sy sê hierdie klas moes hard werk om hul dryfkrag en uithouvermoë te behou en in baie opsigte, diep delf om verlore tyd en ervarings op te vang.

Die sluitingsdatum vir hernasiening is 31 Januarie en die uitslae daarvan sal op 1 Maart vrygestel word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.