As optrede om die omgewing op te ruim, het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Bayswater- en Parkwegkantoor Vrydag (01/07) die koppies in die Happy Valley-bewarea gefynkam.
Hulle het 13 bosbewoners ondervra om vas te stel of hulle aan misdaadbedrywighede verbind kan word of vorige veroordelings het.
Lede van die Noordelike Buurtwagvereniging (NNWA) het in ondersteuning hiervan Saterdag (02/07) die bosse waaronder bosslapers langs Albrechtstraat slaap, uitgedun en onwettige strukture wat opgerig is, verwyder.
Daar was hope rommel oral waar die bosslapers oornag.
Zane Koeberg van die NNWA sê van die bosslapers hou glo die beweging van inwoners en werknemers by sake-ondernemings namens bendes dop. Hy sê dit is om hierdie rede dat hulle die bosslapers uit die gebied wil verdryf.
“Baie van hulle slaap onder bosse agter huise in Westdene en volg inwoners se bewegings.”
Hy sê Saterdag se opruiming was net die begin.
“Ons hoop om van nou af gereeld hier skoon te maak en met bedrywigheid hier nie net die koppie op te ruim nie, maar dit ook vir bosslapers moeiliker te maak om hier te bly.”
Hy sê toe hulle Saterdag begin, was daar van die bosslapers wat selfs ’n handjie bygesit het om te help vullis optel.
Koeberg sê hy hoop met volgende opruimings sal meer mense betrokke raak – ook meer mense van Westdene.
“Ons sal in die toekoms graag saam met die Mangaung-metro se parke-afdeling wil werk om ’n volgehoue skoonmaak-veldtog in Happy Valley te verseker.
“Ons weet ons gaan hierdie situasie nie oornag regruk nie, maar ons wil begin om die omgewing skoner te maak en dit vir inwoners van Dan Pienaar en Westdene veiliger te maak.”
Daar was Saterdag sowat 25 vrywilligers en helpers wat bosse uitgedun en vullis opgeruim het.