David Mosoeu, DA-koukusvoorsitter tydens Woensdag (10/05) se vergadering. Foto: Lientjie Mentz


Dit voel of die Mangaung-metro deur die nasionale ingrypingspan gekaap is.

So het Johan Pretorius, die DA se koukusleier in die Mangaung-metro Woensdag (10/05) op ’n nuuskonferensie in Bloemfontein gesê.

Hy en ander lede van die DA het hulle sterk uitgespreek teen die ingrypingspan onder leiding van Gugu Malaza, van wie die Mangaung-raad ná ’n jaar nog geen enkele verslag ontvang het nie.

Dulandi Leech, die DA se raadgewer oor finansies, sê Malaza en haar adviseurs kos die Mangaung-metro baie.

“Sy moet namens die nasionale regering na die metro omsien, maar sy is die meeste van die tyd nie eers in Bloemfontein nie.” Leach het gesê een van Malaza se raadgewers verdien R114 000. “Dit terwyl daar nog geen vordering met dienslewering in die metro is nie.”

Pretorius sê die wet sê ’n nasionale ingrypingspan en die span departementshoofde asook die waarnemende stadsbestuurder moet die geldelike ingrypingsplan implementeer en dienslewering verbeter.

“Dit is duidelik dat dit nie die afgelope nege maande gebeur het nie. Die metro sê daar is nie geld nie, maar die metro se aanwending van fondse vertel ’n ander storie,” sê Rossouw Botes, die DA se raadgewer oor water en infrastruktuur.

Hy sê slegs 32,9% van die munisipaliteit se begroting van R1,3 miljard is vir die afgelope nege maande tot Maart 2023 bestee. Dit sluit in slegs 44,17% van die begroting vir paaie en stormwaterdreinering, slegs 38% van die begroting vir water, en slegs 30,59% van die begroting vir vlootbestuur en vullisverwydering,

“Van die net oor die R1 miljard wat die metro van die nasionale regering as toelaag ontvang het, is slegs 34,64% bestee,” sê hy.

Tjaart van der Walt, die DA se raadgewer oor vullisverwydering en stadsbeplanning, sê vullisverwydering in die stad het nou ’n nuwe laagtepunt bereik met talle gebiede waar daar tussen Februarie en Maart vanjaar vir meer as twee maande op sommige plekke geen vullis verwyder is nie.

“Wanneer huishoudelike vullis nie elke week volgens ’n vaste skedule verwyder word nie, word die wet oortree,” het hy op die vergadering gesê. “Die uitgerekte staking van werknemers, verlam dienslewering in die metro. Tog word daar nie opgetree teen werknemers wat hulle skuldig maak aan wangedrag, sabotasie of minagting van gesag as algemene bestuurders, toesighouers en ander werknemers wat wil werk, daarvan weerhou word.”

David Moseau, die DA se koukusleier, sê die agteruitgang van die metro se ouditverslag deur die ouditeur-generaal is ’n duidelike teken dat die ingrypingspan nie sy plig nakom nie.

David van Vuuren, DA-LPW, het op die vergadering gesê hy dink ook Malaza tree buite haar pligte op.

“Ons gaan ’n regsmening kry oor waar haar pligte begin en eindig.”

Die DA wil nou sy verslag oor die ingrypingspan aan die parlement voorlê.

“Ons meen die span is nie hier om die metro te ondersteun nie, maar slegs hier om mense uit die regte ANC-faksie aangestel te kry,” het Leech gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.