Dit help nie die Vrystaat spog met die beste matriekslaagsyfer in die land as 40% van gr. 10-leerlinge in die Vrystaat druip nie.
Só sê Armand Cloete VL Plus-lid van die provinsiale wetgewer.
Matrieks van 2023 hou asem op vir die eksamenuitslae wat Vrydag bekend gemaak word en dan sal dit ook weer wys hoe die Vrystaat se matrieks teenoor ander provinsies gevaar het.
Ongelukkig wys die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga se skokkende onthulling dat 40% van gr. 10-leerlinge in die Vrystaat gedruip het, juis op die probleme wat veroorsaak word met die groot druk op skole in die provinsie om toe te sien dat hul matrieks presteer.
Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika, sê op voetsoolvlak is dit bekend hoe politici druk op amptenare en uiteindelik op onderwysers uitoefen om die matriekslaagsyfer te verbeter.
“Die probleem is baie sigbaar in gr. 10 wanneer leerlinge hul matriek-vakkeuses moet uitoefen,” sê Deacon. “Die uiteinde is dat minder leerlinge tot in matriek vorder of gedwing word om ander vakke te neem om die algehele matriekslaagsyfer te verbeter. Dit is juis vakke wat daartoe lei dat kinders nie die regte vakke neem vir nagraadse studie of toegang tot werksgeleenthede nie. Uiteindelik ly die kinders onder hierdie gejaag na die hoogste matriekslaagsyfer.”
Boonop hou die voorgestelde Wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela-wet) geen noemenswaardige voordele in vir die sistemiese gebreke in die onderwysstelsel in nie.
Deacon verduidelik as dié wetsontwerp goedgekeur word, gaan een van die gevolge wees dat dit die mag wegneem van skoolbeheerliggame om besluite te neem oor ’n skool. Die hele gemeenskap waarin ’n skool geleë is, sal dan deur besluite hoër op benadeel kan word.
“Die wetsontwerp kan meebring dat topskole waar goeie onderrig plaasvind en onderrig dikwels in die leerlinge se moedertaal plaasvind, verswak. Wat is die sin daarvan om goeie skole te benadeel?” wil hy weet.
Die uiters swak slaagsyfer van 40% van gr. 10-leerlinge in die Vrystaat, sal moontlik nog verder verswak as die voorgestelde Wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela-wet) goedgekeur word.
Cloete sê die VF Plus is oortuig daarvan dat moedertaalonderrig die sleutel is om die provinsie se hoë druipsyfer in laer grade aan te spreek.
“Dit help nie die Vrystaat het die beste matriekslaagsyfer in die land, maar vier uit elke tien graad 10-leerlinge druip in dieselfde jaar nie. Daardie leerlinge sal binnekort deel van die 44% werkloses in die provinsie wees,” sê Cloete.
“Die vorige LUR vir onderwys, wyle Tate Makgoe, het verlede jaar in sy begrotingstoespraak erken dat meer gedoen moet word om die provinsie se amptelike tale (Afrikaans, Sotho en Engels) te versterk as onderrigmedia. Sy party, die ANC stel nou drakoniese veranderinge met die Bela-wetswysigng voor wat die gehalte van onderwys net gaan versleg.”
Deacon sê hy is dankbaar dat die sluitingsdatum van openbare insette oor die Bela-wysigingswet tot 31 Januarie verleng is.
Hy moedig mense aan om voor dié sperdatum hul insette te stuur.
“Mense kan die voorstelle van die Bela-wetsontwerp op Fedsas se webwerf of op die departement van basiese onderwys se webblaaie lees. Daar is bykomende kommentaar wat die beplande wysigings verduidelik, op Fedsas se webblad beskikbaar,” sê hy.
Hy sê openbare verhore gaan ook in elke provinsie plaasvind en die publiek moet die media dophou vir inligting daaroor.
Intussen kan die publiek voorstelle oor die wetsontwerp na die e-posadres belabill@parliament.gov.za stuur.