Die internasionale dag vir planetariums word jaarliks op 7 Mei gevier. Die heel eerste planetarium, die Zeiss-planetarium, is ‘n eeu gelede buite Munich geopen.
Planetariums bestudeer nie net die wonder van sterre en die buitenste ruim nie, maar is perfek vir die aanbieding van verskillende kulturele geleenthede en die deel van wetenskaplike kennis.
Hierdie programme bind gemeenskappe saam en skep ‘n beter insig in ons plek in die heelal en die stories wat ons wêreld gevorm het.
Bloemfontein se digitale planetarium op Naval Hill wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behoort, was die heel eerste in sy soort in Afrika suid van die Ewenaar.
Dit is in November 2013 geopen. Intussen is ander digitale planetariums in Suid-Afrika geopen. Iziko in Kaapstad is die nuutste digitale planetarium in Suid-Afrika. Daar is ook een by Gqeberha en die planetarium by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) is in Maart heropen nadat dit opgegradeer is tot ‘n digitale planetarium.
Die Naval Hill-planetarium bied elke Saterdag ‘n vertoning aan. Besoek die Facebookblad Boyden Observatory and the Naval Hill Planetarium vir al die inligting.

You must be logged in to post a comment.