Interskole: Kookwater-rugby verwag wanneer Grey en Paarl Gimnasium mekaar in Bloemfontein pak

,

Die interskole tussen Grey Kollege en Paarl Gimnasium vind hierdie naweek in Bloemfontein plaas. Skoolhoof Braam van Wyk verwag ‘n taai stryd.


Die vonke gaan spat in die naweek se interskole tussen Paarl Gimnasium, wat in Bloemfontein teen die manne van Grey Kollege speel. Dit is die eerste keer dat Grey die gasheer is vir die interskole wat verlede jaar begin is.

“Dit gaan ‘n dekselse taai inter wees,” voorspel Braam van Wyk, skoolhoof van Grey-kollege.

“Dit is ‘n nuwe interskole en daar gaan nou nuwe bande gevorm word van ouens wat lewenslank vriende gaan word. Op die veld gaan dinge hard wees, maar van die veld af is dit ‘n geleentheid vir nuwe vriendskappe,” sê hy.

Grey Kollege en Paarl Gimnasium pak mekaar die naweek in Bloemfontein. In verlede jaar se kragmeting tussen die eerste spanne is hier Phillip McLaren en Ethan Adams (met die bal) in aksie.

Gelukkig het die sonnige weer vandag perfek saamgespeel ná ‘n sopnat week in Bloemfontein. “Ons het gesê die klomp van die Boland moet maar hier in die Kaap kom speel, maar die weer is goed vir ons,” het Van Wyk vanmiddag langs die hokkieveld gesê.

Die seuns het ook vandag meegeding in gholf (Schoemanspark-gholfbaan), tennis en muurbal.

Saterdag se rugbywedstryde begin om 08:45 en die hoofwedstryd vind om 14:00 op Grey se hoofrugbyveld plaas.

Grey Kollege, met sy ryke rugbygeskiedenis is ’n onuitputbare bron van Springbok-talent. Paarl Gim se manne is weer bekend vir hul gedissiplineerde spel en taai verdediging en het oor die jare hul eie rugbylegendes opgelewer. Hulle sal beslis nie terugdeins vir die uitdaging nie.

Met Grey se oorwinning in verlede jaar se eerste amptelike inter, het Grey se eerste rugbypan met ‘n eindtelling van 29-27 Gimmies se onoorwonne 2024-seisoen beeïndig.

Grey het tot dusver in 2025 ’n onoorwonne rekord gehandhaaf met oorwinnings teen Affies, Diamantveld en Oakdale. Hul kombinasie van krag in die voorspelers en vaardigheid in die agterspelers maak hulle ’n gedugte opponent.

Die interskole het vandag begin met die hokkiewedstryde waarvan die o.14 A-hokkiespanne gelyk op 2 elk gespeel het, Grey het die o.16 A-wedstryd gewen en die tweede span en eerste spanne word vanaand beslis.

Grey se eerste rugbyspan bestaan uit: Lamla Mgedezi, Benjamin van den Berg, Ehtan Adams, Toriq Schambreel, Kenny Siyabonga, Darius Erwee, Sherwin Buys, AJ Booysen, Alexi Tyropolis, Adem Niewoudt, AJ Meyer, Claude Steyn, JG Badenhorst, Zander Smit en David Haydakis. Die reserwes is Tian Fourie, Hennie Bredenhann, AJ Hendriks, Prestan Bennett, Steven Muller, Bernard Wessels, Jan Hendrik van der Linden, O’Ryan Kleyn en Eddie Mabena.

You need to be Logged In to leave a comment.