Dirk Kok en sy vrou, Mientjie, op Volksblad en Sentraal24 se jaareindgeselligheid in Desember 2023. Foto: Lientjie Mentz


Die huldeblyke wat steeds instroom vir Dirk Kok (56), redakteur van Volksblad en tot onlangs rubriekskrywer vir BloemNuus, ná sy afsterwe op Saterdag 27 Julie is ’n klinkklare bewys dat hy ’n geliefde mens was, iemand wat almal goed behandel het en wat oral ’n verskil in mense se lewe gemaak het.

Die gesoute joernalis het by Hospice Bloemfontein aan pankreaskanker gesterf.

Dirk se vriendelikheid, humorsin, vegtersgees vir geregtigheid en regverdig­heid, die manier hoe hy stories kon vertel, sy liefde vir sy vrou en kinders en sommer net dat hy regtig ’n lekker mens was, kom duidelik na vore in al die huldeblyke wat van oraloor instroom.

Dirk Kok en sy vrou, Mientjie, op Volksblad en Sentraal24 se jaareindgeselligheid in Desember 2023. Foto: Lientjie Mentz

Dirk was bestuurslid van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds.

Ook hier het hy hom beywer vir ’n beter lewe vir behoeftiges.

“Hy was ’n goeie man,” sê sy vrou, Mientjie.

“Ek kon nie vir ’n beter man gevra het nie. Hy was ’n goeie pa en ’n goeie vriend.”

Sy sê almal wat paaie met Dirk gekruis het, was lief vir hom; sy dood laat ’n groot leemte in talle mense se hart.

Dirk word oorleef deur sy vrou, Mientjie; seuns Adam, Ben, Zirk, Jos en Daniel; ouers Joe en Eileen; en sy suster, Estelle.

Dirk se omgeehart vir mense, hoe maklik hy gelag het, hoe maklik hy vir mense gesê het hy is lief vir hulle en hoe gretig hy sy joernalistieke kennis en lewenswysheid met almal gedeel het, het van hom die uitsonderlike mens gemaak waarvoor almal so lief was.

Hy laat ’n groot leemte in joernalistiek, maar ook as mens, omdat hy oral ’n positiewe verskil gemaak het.

  • Herbert is die redaksionele hoof van plaaslike koerante by Sentraal24. Sy het sedert 1997 saam met Dirk gewerk.

You need to be Logged In to leave a comment.