Die ma van die wêreldbekende miljardêr Elon Musk, Maye, ontvang Woensdag (12/04) ’n eredoktorsgraad in dieetkunde van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die UV sê in ’n verklaring die toekenning van ’n eredoktorsgraad aan iemand is op grond van sy of haar vrygewige en altruïstiese optrede, of lewenslange prestasies wat ’n gemeenskap, nasie of die mensdom in die algemeen bevoordeel.

Maye, wat aanvanklik aan die UV studeer het voordat sy na haar geboorteland, Kanada, verhuis het, word deur die UV beskryf as ’n skrywer van internasionale topboeke, ’n dieetkundige, ’n model en openbare spreker.

Haar boek, A Woman Makes a Plan, is in 100 lande beskikbaar en in 30 tale gepubliseer.

Sy het langer as 45 jaar haar eie onderneming in dieetkunde in agt stede en drie lande bedryf.

Sy bied ook professionele dienste aan in berading, die lewering van toesprake, konsultasie, skryf en openbare betrekkinge.

Maye was die enigste dieetkundige wat die registrasie-eksamen in drie lande kon aflê.

Die UV sê Maye se passie vir dieetkunde en bemagtiging het gelei tot ’n reeks toesprake in wêreldstede soos Melbourne, Stockholm, Kijif, Boedapest, Cannes en Beiroet. Groot stede in Amerika, Kanada en Suid-Afrika kan ook by dié lys gevoeg word.

Die toekenning van die eregraad aan Maye val saam met die 40ste bestaansjaar van die departement dieetkunde aan die UV.

You need to be Logged In to leave a comment.