Johan Herbst en Schalk van Vuuren in Lanariapark in Wilgehof. Foto: Lientjie Mentz


Inwoners van Wilgehof het gehelp dat Linariapark se gras die naweek gesny is en die parkie nou weer netjies en skoon vertoon.

Wilgehof wat deel van die Gardeniapark en Wilgehof-woonbuurtvereniging vorm, het Maandag dié park onder die Mangaung-metro se Adopt-a-Park-program aangeneem.

’n Inwoner van Wilgehof, Schalk van Vuuren sê inwoners het verlede naweek gehelp om die park skoon te maak en Johan Herbst het Saterdag die gras met dié vereniging se trekker gesny.

Herman Jordaan het ook Saterdag Montgomerypark gesny.

Die week werk nog ’n skoonmaakspan saam met Pieter Marais in Montgomerystraat al langs die treinspoor in die rigting van die Benadebrug om hier skoon te maak.

Hy het ook al die oop ruimtes naby die Laerskool Wilgehof skoongemaak en die bome gesnoei.

“Ons moedig inwoners aan om betrokke te raak sodat ons van Wilgehof ’n netjiese woonbuurt kan maak.

Mense wat nie ’n geldelike bydra kan maak nie, kan kom help om ons woonbuurt netjies te maak en te hou,” sê Schalk.

Saterdag 22 Februarie gaan inwoners die verkeerseiland in Van Heerdenlaan en Roselaan netjies maak.

Rig navrae aan Schalk by 082-412-4175.

You need to be Logged In to leave a comment.