Daar wag groot pret op Bayswater United Rekopane (BU) se Kersparty Saterdag (10/12) om 16:00 by die Christian Brothers College in Waverleystraat.
Almal word genooi na dié nuutgestigte woonbuurtvereniging se geselligheid, waarvan Thabo Olivier die gasspreker is en oor die kweek van groente tuis gaan gesels.
Hy gaan ook meer vertel oor die Grootste tamatie-kompetisie wat in Oktober begin is, waarin Bloemfonteiners uitgedaag word om ’n plantjie te koop en te kyk wie die grootste tamatie kan kweek.
Olivier sê hy sal van die saailinge wat by Greenside-kwekery te koop is na die partytjie bring sodat mense dit daar ook kan koop.
Die saailinge kos R100 elk, en geld wat uit die verkoop van die plantjies gemaak word, gaan aan die niewinsgewende organisasie Tholwane e Molemo.
Bridgette van der Merwe, stigter van BU, sê die vereniging het sy bedrywighede begin met ’n straatbraaigeselligheid op 1 Oktober waarheen alle Bayswater-inwoners genooi is.
“Die doel met die organisasie is dat inwoners hul bure kan leer ken en almal kan saamwerk sodat Bayswater ’n beter en veiliger woonbuurt vir ons en ons kinders sal wees,” sê sy.
Sy sê hulle wil as organisasie saamwerk om die woonbuurt netjies te hou en mekaar by te staan waar nodig.
Op Saterdag se partytjie gaan Kersvader vir die kinders geskenke bring. Ouers is welkom om vir hul kinders geskenke van tussen R50 en R100 te koop en toe te draai sodat Kersvader dit kan uitdeel.
Rig navrae aan Van der Merwe by 084-555-9632.