Inwoners van Bainsvlei waarvan talle familielede het wat in die Bainsvlei-begraafplaas begrawe is, het Donderdag (16/06) deelgeneem aan ’n skoonmaak-aksie wat deur die DA hier gereël is.
Dave McKay, DA-raadslid, sê dit was die begin van ’n behoorlike skoonmaak-aksie om dié begraafplaas netjies te maak.
Voor die vorming van die groter Bloemfontein, was dit hoofsaaklik inwoners van Bainsvlei wat in dié begraafplaas begrawe is.
Die afgelope dekades word mense van oor die stad heen ook hier aan die buitewyke van die stad begrawe. Die probleem is dat soos met ander begraafplase in die metro, onderhoud vir jare agterweë gelaat is en grafte toegegroei word met gras en onkruid.
Hoewel daar hier en daar familielede is wat sekere grafte en die deel om dit netjies hou, was die begraafplaas vir lank erg oorgroei. Sowat 25 mense van die gemeenskap het randsnyers, grawe en ander toerusting gebring om te help om die begraafplaas skoon te maak.
McKay sê benewens gras en onkruid wat grafte toegroei, is indringerbome by die hek verwyder om toegang tot die ouer deel van die begraafplaas te vergemaklik.