Ná weke waarop vullisverwydering weens uitdagings soos stakende munisipale werkers in talle woonbuurte nie plaasvind nie, het lede van die gemeenskap besluit om saam met die Mangaung-metro ’n praktiese oplossing te vind.
Hier kort voor Paasnaweek het die nuutgestigte Bloemfontein-woonbuurtvereniging-groep (BNAG) hande gevat met die vullisverwyderings-afdeling van die Mangaung-metro om vier woonbuurte se vullis op te ruim.
Anneke Anker, een van die direkteure van BNAG, sê dit is hul eerste projek in ’n poging om ’n gemeenskaplike platvorm vir woonbuurtverenigings in die stad te skep om saam te werk en mekaar te ondersteun.
“Ons wil saamstaan en Bloemfontein vir almal verbeter,” sê Anneke. “Ons kan mekaar ondersteun met hulpbronne en mannekrag en so werk om probleme te help oplos terwyl ons, ons eie woonbuurte in die proses netjies maak.”
Werner Pretorius, DA-wyksraadslid, sê dit is vandeesweek die vyfde week agtereenvolgens dat Dan Pienaar geen vullisverwydering gehad het nie.
In talle ander woonbuurte lê vullissakke wat ophoop en nou reeds stukkend is en gemors wat die wêreld rondlê.
As oplossing het die Brandwag-woonbuurtvereniging (BNA) ’n skenking asook toerusting soos handskoene beskikbaar gestel en die DA het vier sleepwaentjies aan die BNAG beskikbaar gestel vir ’n skoonmaakaksie saam met die metro in vier woonbuurte dié week.
Met die hulp van lede van die gemeenskap, sakelui, Anchor of Hope, raadslede van die DA en VF Plus asook die Mangaung-metro se vullisverwyderingsafdeling, word die woonbuurte Bayswater en Noordhoek Dinsdag (04/04) skoongemaak.
“Die vullisvragmotor van die metro ry vanoggend deur Noordhoek terwyl ons met die bakkies en sleepwaentjies deur Bayswater ry en vullis optel,” verduidelik Anneke.
“Die metro sal dan kom en die sakke wat ons oplaai, met die vullistrok na die stortingsterrein aanry. Die metro stuur ook ’n span wat al die vullis wat los rondlê waar sakke geskeur is, op te ruim.”
Woensdag (05/04) gaan die groep die vullissakke in Brandwag en Heuwelsig oplaai en die proses herhaal.
“Hierdie is die eerste van talle projekte,” sê Anneke.
Anneke sê die BNA is die eerste woonbuurt wat in tandem met BNAG funksioneer. “Ons praat ook met organisasies soos OurSA om werklik ’n inklusiewe vereniging te wees wat woonbuurte bemagtig.”
Die metro sê die beplanning is dat hierdie soort opruim-aksies ook in ander dele van die stad uitgebrei sal word.