Hoewel nog heelwat reëlings getref moet word rondom die stigting van ’n nuwe woonbuurtvereniging vir Uitsig en Fleurdal, is inwoners ten gunste van so ’n stap.
Die derde vergadering met inwoners – aanvanklik van Uitsig – is Dinsdag (24/05) by die NG kerk Uitsig gehou.
Die vergadering is gehou te midde van beurtkrag wat die dig beboste parke naby die kerk in duisternis gehul het.
Gelukkig het ’n kragopwekker by die kerk verseker dat die vergadering kon voortgaan.
Ralph Rex, ’n inwoner en stads- en streeksbeplanner, het die vergadering gelei waarin hy gesê het die komitee wil werk om Uitsig en omgewing netjieser en veiliger vir inwoners te maak.
Op dié vergadering was heelwat inwoners van Uitsig en ook inwoners op die randgebiede van Fleurdal wat direk aan Uitsig grens.
Rex sê ’n nie-winsgewende vereniging moet gestig word sodat die parke in die woonbuurt volgens die Mangaung-metro se projek neem-’n-parkie-aan bestuur kan word.
Die komitee wat hulself beskikbaar gestel het, werk nou aan planne van hoe die formaat van die vereniging gaan wees en watter planne in werking gestel kan word om die doelwitte wat hulle nastreef, tot uitvoering te bring.
Rex sê een van die groot probleme wat in die woonbuurt ondervind word, is dat Uitsig as ’n rooi sone vir inbrake beskou word en daar daadwerklik gewerk moet word om veiligheid hier te bevorder.
“Baie van ons het in die omgewing grootgeword en as kinders in die parke gespeel.
“Ons wil hê die parke moet weer veilig en toeganklik wees sodat kinders veilig daarin kan speel.”
Hy sê die sukses van die Fichardtpark-woonbuurtvereniging is duidelik uit die eiendomswaardes wat danksy die vereniging se ingryping in dié woonbuurt 11 jaar gelede, verhoog het.
“Ons doel is om dit ook vir die mense in ons woonbuurte reg te kry.”
- Inwoners wat die vergadering bygewoon het, het gestem dat daar voortgegaan word met die stigting van die vereniging en ook dat inwoners van Fleurdal by die vereniging ingesluit word. Nog ’n vergadering, spesifiek vir die inwoners van Fleurdal, word Dinsdag (07/06) om 18:00 by die NG kerk Uitsig gehou om ook hul insette te kry.