Dit blyk min het nog gebeur sedert September verlede jaar toe die Mangaung-metro ingegryp het om die Brandwag-behuisingsprojek te probeer reguleer.
Die sjebien wat op die perseel van die behuisingsprojek handel gedryf het en gesluit is, het weer oopgemaak en doen flink sake terwyl bedrywighede by die motorwasonderneming wat tydens die operasie verlede jaar gesluit is, ook voortgesit word.

Inwoners van Brandwag moet die harde musiek wat van die rigting van die woonstelle en spesifiek die sjebien kom, nie net naweke nie, maar ook weeksaande verduur.
Jaco Bezuidenhout van die Brandwag-woonbuurtvereniging sê op Sondag 4 Mei het mense ook motors in die singel aan die agterkant van die blok in Fergusonstraat gejaag en “spinning” gedoen. Merke aan die plaveisel en stukke bande was Maandag duidelike tekens van dié bedrywigheid. Bezuidenhout sê inwoners van ander woonbuurte het ook hier saamgetrek en partytjie gehou.
Hy sê hy het al talle briewe aan betrokkenes, insluitende die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum en amptenare van wetstoepassing, gerig, maar het geen terugvoering gekry nie.
Dit kom te midde van die metro se planne om orde te skep en die kennisgewing wat Maandag aan inwoners van die Brandwag-woonstelle gestuur is om hulle in te lig dat inwoners wat daarvoor kwalifiseer, huurooreenkomste moet onderteken.

Volgens die woordvoerder van die Mangaung-metro, Qondile Khedama, is daar nou slegs vier wettige inwoners van die behuisingsprojek wat by die Sosial Housing Regulatory Authority (SHRA) geregistreer is. ‘n Uitsettingsbevel is nou op al die inwoners wat nie by hulle geregistreer is nie, bedien.
Daar is meer as 1 050 wooneenhede in dié kompleks in Brandwag wat al jare van die een verhuringsagentskap na die volgende oorgeskakel word. Dit blyk talle van die woonstelle staan leeg, maar daar is nêrens rekords van die meerderheid van die inwoners nie.
Inwoners wat reeds meer as 14jaar daar bly, sê dit was vroeër maklik om huurgeld te betaal omdat die agentskap wat voor 2019 daar was, Freshco, ‘n kantoor op die perseel gehad het.
Intussen is die kompleks in administrasie geplaas en word nou oorgeskakel na die SHRA.
Die nuutste aksies volg op ‘n besoek van die portefeuljekomitee van die menslike nedersettings-afdeling aan die kompleks op 25 Maart.

Khedama sê in ‘n nuusverklaring die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, het met inwoners van die woonstelle, die sogenaamde “huurders-komitee”, vergader.
Hy sê op ‘n vergadering op 2 April het die komitee aangebied dat inwoners R200 per maand betaal, ongeag die grootte van die woonstelle. Nthatisi het daarop gesê dat dit nie aanvaarbaar is nie en hy het die proses om inwoners wettig te kry, tot 30 April uitgestel.
Inwoners is daarna gevra om navrae te rig aan masilo@fishaattorneys.co.za.
You must be logged in to post a comment.