Inwoners het die hele naweek gesukkel om nuwe voorafbetaalde watermeters op te gradeer. Foto: Unsplash


Inwoners van oor die stad heen is die hele naweek al in die duister oor die opgradering van voorafbetaalde watermeters wat van vandag af moes plaasvind, maar reeds Vrydag op 1 November begin het en talle huishoudings sonder water gelaat het.

Die Mangaung-metro het Saterdag kommunikasie uitgestuur om te sê dat mense wat water koop, vyf stelle van 20 nommers sal ontvang wat hulle dan op hul voorafbetaalde watermeters moet insleutel waarna die meters se herkodering sal plaasvind.

Die opgradering deur die Mangaung-metro moet dringend gedoen word om voorafbetaalde meters te stel sodat hulle 24 nommer waterkodes kan gebruik.

Dirk Kotzé, ’n DA-raadslid van die metro, sê die metro se bestuur moet dringend krisisbestuurprotokolle instel om die verwarring te voorkom en beter kommunikasie met die publiek te hê. “Die krisis het inwoners erg gefrustreer en sonder oplossings gelos.”

Raadslede oor die stad heen moes die afgelope naweek spook om inwoners te help nadat talle inwoners ’n “017”-foutkode gekry het nadat hulle nuwe kodes probeer insleutel het.

“Die metro se bestuur het die situasie sleg hanteer en nie goeie kommunikasie uitgestuur nie, wat die IT-spanne, bestuur en inwoners gelos het met groot probleme.”

Kotzé wys daarop dat die DA reeds in Mei 2023 ’n voorstel ingedien het dat nuwe tegnologie in die oproepsentrum wat mense in staat stel om opsies te kry en die druk op die oproepsentrum in tye van die krisis te verlig, in te stel. “Ons het ook voorgestel dat die metro se webwerf opgedateer word om vinniger terugvoer na die publiek moontlik te maak.”

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro het Sondag in ’n nuusverklaring gesê die metro is bewus van die probleme.

Hy beveel inwoners wat sukkel om die nuwe kodes in te sleutel of ’n kode “107-fout kry, om die oproepsentrum by 0800-111-300 of stuur ’n WhatsApp na 065-586-6261.

You need to be Logged In to leave a comment.