Dit is so belangrik dat mense van die middelmisbruik in Bloemfontein bewus gemaak word dat twee instansies inwoners vra om Saterdag (02/04) rooi aan te trek en die strate in te vaar.
“Ons bied in Wilgehof ’n Red Run-pretloop teen middelmisbruik aan omdat baie verspreiders die middels hier verskaf,” sê Jana Viljoen van Auksano, ’n trauma-terapiesentrum in Pellissier.
Volgens haar is ’n verskeidenheid middels algemeen in die stad beskikbaar.
“Dit is nie net dagga nie, maar ook onder meer cat en tik. Daar is nie ’n skool wat nie deur dié kwessie geraak word nie. Hoe meer eksklusief die skool, hoe duurder is die dwelms wat gebruik word.”
Nadia Kuit, maatskaplike werker van Vrystaat-versorging in Aksie (VVA) in Watkeystraat, sê hulle het besluit om met Auksano saam te span omdat hulle dikwels met die gevolge van dwelm- en alkoholmisbruik te doen kry.
Hulle het Donderdag (24/03) van huis tot huis in Ehrlichpark gegaan om pamflette uit te deel en mense aan te moedig om die VVA te kontak indien hulle of familielede met die misbruik van middels worstel. Die groep sou Batho ook besoek.
“Voor die pretloop, wat oor 3 km strek, sal deelnemers ’n belofte aflê dat hulle nie verbode middels sal gebruik of alkohol sal misbruik nie. Ons vra dat almal rooi aantrek,” sê Kuit.
Volgens haar is dié kleur gekies omdat dit op die teenkanting teen middelmisbruik dui.
Belangstellendes kan hulle om 08:00 by die Saverite Protea-sentrum in Roselaan, oorkant die ou poskantoor, gratis vir die pretloop registreer. Inwoners kan ou komberse en leë koffiepoeierbottels skenk voordat hulle deur Wilgehof se state beweeg. Elke deelnemer sal ’n geskenkpakkie ontvang.