Inwoners van Noordhoek in Bloemfontein is moedeloos oor die misdaad in die ou sokkerklub in Ryk Tulbachstraat en het nou ‘n versoekskrif begin om die metro te dwing om aandag te gee.
Normarie du Plessis het ‘n aanlyn-versoekskrif namens die gemeenskap begin om te vra dat die bus en vervalle gebou wat ‘n toevlugsoord vir vermeende misdadigers in die woonbuurt is, verwyder en die gebou afgebreek word.
Selmé Pretorius, DA-wyksraadslid het reeds in Maart ‘n versoek gerig om ‘n voorlegging te doen aan die burgermeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, Lulama Titi-Odili, om ‘n plan voor te lê om die leë munisipale eiendom wat onwettig bewoon word, te beveilig.

“Die DA in Mangaung glo daar moet deurslaggewende optrede wees teen die krisis van onwettige eiendomsbesetting oor die stad heen,” het sy in ‘n nuusverklaring gesê.
Sy sê sedert sy die vergadering versoek het, was daar nog geen optrede nie en kon sy ook nie ‘n vergadering met Titi-Odili gereël kryh nie. “Ondanks voortudrende klagtes van die inwoners, het die metro se wetstoepassingafdeling nie opgetree nie en is daar gereeld onwettige besetting van die gebou en die bus.”
Pretorius sê daar is gereeld mense wat binne die bus bly en selfs daarbinne vuur maak.
“Die onwettige besetting van munisipale eiendom, skend die regte van wetsgehoorsame inwoers, wat verdien om in ‘n veilige omgewing te woon,” sê Pretorius.
Sowat 80 inwoners het teen Vrydagmiddag reeds die versoekskrif geteken. Indien jy dit ook wil ondersteun, kliek hier om dit te onderteken.
You must be logged in to post a comment.