Verskeie inbrake in huise en by die NG kerk Uitsig, het inwoners bekommerd oor die misdaad in dié woonbuurt wat bly styg. Dit noop hulle om nou ook ’n woonbuurtvereniging te stig.
Wilson Jaftha, een van die inwoners wat met ’n vereniging die netheid en veiligheid van die woonbuurt wil verbeter, sê misdaad het die afgelope jaar dramaties toegeneem.
“Dit wil voorkom of krimenele elemente oorbeweeg van ander woonbuurte soos Fichardtpark.”
Jaftha sê hy het een middag saam met sy dogter van die skool af gekom en sy sien toe ’n gat in die muur.
“Hulle het my posbus uit die muur uit gesteel,” sê Jafta.
’n Veiligheidsliggie is ook gesteel.
Hy sê talle van sy bure in Japie Neserweg het al onder misdaad deurgeloop.
“By een is ’n ornamentele fiets uit die tuin gesteel en by ’n ander huis het inbrekers stilgehou en meubels uit die huis gedra terwyl die inwoners nie daar was nie.”
Sy buurman Charl Nienaber sê daar was onlangs ’n inbraak by die NG kerk Uitsig.
“Hulle het nie baie gesteel nie, maar hulle het baie skade aangerig. Met ’n geselligheid begin Mei wat by die kerk aangebied is, is daar by een van die motors ingebreek.”
Nienaber sê een van hul bekommernisse is dat die waarde van hul eiendomme in gedrang kom as misdaad hier hoogty vier. Jaftha sê een van die probleme is die drie parke in die woonbuurt wat erg bebos is. Nog ’n inwoner Gert Coetzee sê die parkie in Japie Neserweg het verlede jaar gebrand.
“Jy moes sien hoe die rotte en muise uit die veld laat spaander het toe dit brand. Ons het alles probeer om hulle uit ons erwe en huise te hou, maar vergeefs.”
Intussen het die bosse weer woes gegroei ná die reën. Die inwoners sê hulle weet daar is leeglêers wat in die digte bosse skuil en hul bewegings dophou.
“Die munisipaliteit het verlede week die bosse in die park voor ons huise met ’n trekker en bossiekapper begin sny. Dit het ’n mooi ent gevorder, maar toe kom hulle nie weer terug nie.”
Inwoners reël dat daar Dinsdag (24/05) om 18:00 ’n vergadering by die NG kerk Uitsig gehou word vir inwoners van Uitsig sodat ’n woonbuurtvereniging gestig kan word.
“Ons wil ’n nie-politieke vereniging stig wat die belange van alle inwoners op die hart dra. Ons wil die veiligheid verbeter en geld met lidmaatskap insamel om mense met die nodige toerusting te kry om die parke netjies te hou.”
Jaftha sê die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) hulle help met die stigting van hul vereniging.
Volgens getalle waaroor Jafta beskik, is daar sowat 800 huise (meenthuise uitgesluit) in Uitsig.