Opgewondenheid heers in Langenhovenpark se meer landelike woonbuurt aan die westekant van die stad, oor ’n nuwe inwonerprojek waardeur koppies omhein gaan word sodat wild daar geplaas kan word.
Inwoners van Langenhovenpark, saam met Dulandi Leech, wyksraadslid, asook die wykskomitee, verskeie gemeenskapsorganisasies en sakeondernemings, vat hande met die projek om koppies in Langenhovenpark te omhein, die ekologie te beskerm en te bewaar en ’n “groengebied” hiervan te maak.
Leech sê dit kom ná talle klagtes oor onwettige grondbesetting.
“As die koppies eers vlamvat waar bosslapers bly, kan die brande in die kloof afkom en lapas afbrand. Ek het in 2021 ’n beswaarskrif gedryf waarin die Mangaung-metro versoek word om ’n hofbevel te verkry om die onwettige grondbesetters te verwyder,” sê sy.
“Probleme van onder meer verhoogde veiligheidsrisiko’s, asook brandgevare, het ontstaan. Die natuurlike dierelewe word bedreig, terwyl die genoemde gebiede as bewareas gelys is.”
’n Konsep soortgelyk aan dié in die Sewe Damme-bewarea in Bloemfontein word beplan. Leech sê in hierdie stadium kan nog nie gesê word hoeveel koppies omhein gaan word nie. Dit sal afhang van die geld wat ingekry word, maar die doelwit is om almal te omhein.
“Ons begin met die groot koppie die naaste aan die Boeremark,” sê sy.
“Goedkeuring van die departement van parke en ontspanning van die metro is reeds verkry en ’n komitee is saamgestel om die projek te bestuur,” sê Leech.
Die komitee wil in die lang termyn wild in die koppies vestig, met wandelpaaie waarlangs inwoners kan stap. Toegangsbeheer sal toegepas word. Die eerste gedeelte van die oorhoofse koppie wat strek tussen Boerneefstraat, Jan Brand-straat en GA Watermeyer-straat is reeds verlede week omhein.
“Ons wil Wouter Bester, inwoner van Langenhovenpark en eienaar van ’n slaghuis wat hier geleë is, bedank. Hy het die aanvanklike kapitaal verskaf om die projek aan die gang te kry, asook Anton Botha en die inwoners van GA Watermeyer-straat vir hul besonderse bydrae tot die projek.”
Hulle daag ander inwoners en sake-eienaars uit om dieselfde te doen en om by die projek betrokke te raak. Kontak Botha deur ’n WhatsApp na 082-781-5672 te stuur.
Leech benadruk die projek is nie dié van ’n politieke party nie.