Die Vrystaat-tak van die Internasionale Polisievereniging (IPV) in Suid-Afrika het op Vrydag 24 Junie komberse en ander items vir liefdadigheidorganisasies geskenk.
Nico Gerber, plaaslike voorsitter wat ook dien op die nasionale uitvoerende komitee, sê dié organisasie bestaan al 40 jaar in Suid-Afrika.
“Dit is vir almal wat bevoegdheid het om mense te arresteer, van lede van die polisie, militêre polisie asook afgetrede lede.”
Die IPV sluit 400 000 lede oor 72 lande in.
Dit is in 1950 in Engeland gestig – gebore uit die idee van ’n pennevriend-verhouding tussen sers. Arthur Troop en Alfred Fisher.
Die penvriend-vereniging het later uitgebrei tot lede wat mekaar gehelp het met die uitruil van bekostigbare vakansies, uitruilooreenkomste vir professionele dienste en uiteindelik ’n volwaardige vereniging wat die polisiegemeenskap wêreldwyd onder een vaandel verenig.
Gerber sê die vereniging wil verhoudings met die publiek bevorder en ook teruggee aan die gemeenskap.
As deel van die Vrystaat-tak se uitreikprogram het lede vir die Bloemfonteinse DBV tien komberse, kos en speelgoed geskenk en ook op dié Vrydag 50 komberse vir Engo se bejaardes en mense met gestremdhede geskenk wat deur Engo-personeel in ontvangs geneem is.