Is dit ‘n vrees, of is dit ‘n fobie?

Is jy bang vir slange of dalk spinnekoppe, of raak jy angstig as jy jou huis moet verlaat?.


Is jy bang vir slange of dalk spinnekoppe, of raak jy angstig as jy jou huis moet verlaat?

Afrikaans.com het oor vrese en fobies gaan oplees en verduidelik dit soos volg:

Wat is ’n fobie?

’n Fobie is, volgens ’n blog op Wie is ek se webtuiste, “ ’n angsversteuring en kom dit gewoonlik as ’n volgehoue, onlogiese vrees vir ’n spesifieke objek of situasie voor.”

Die kliniese sielkundige, Louis Awerbuck, skryf in ’n 2017-blog in Sarie (Netwerk24) dat die persoon bewus is dat die vrees onlogies en onrealisties is. Tog sal die persoon alles in sy vermoë doen om die situasie of voorwerp te vermy.

As hy nie uit die situasie kan ontsnap nie, “ervaar hy intense ongemak of angs en sukkel die persoon om sy aktiwiteit te voltooi”.

Die goeie nuus is dat ’n fobie behandel kan word, mits dit deur ’n kundige as sodanig diagnoseer word en die toepaslike behandeling ontvang word.

Wat is vrees?

Vrees, volgens Awerbuck in dieselfde 2017-blog, “is gewoonlik aan ’n spesifieke voorval (soos ’n hond wat jou gebyt het en nou is jy bang vir honde) gekoppel of iets werklik soos ’n virus-epidemie”. Die vrees het ’n rede en kan op realistiese maniere hanteer word.

Wanneer iemand ’n vrees of ’n fobie het, kan dit suksesvol behandel word.

Drie hoofkategorieë van fobies

Spesifieke fobie: Die persoon is bang vir iets spesifiek, soos slange, hoogtes, nou plekke en so meer.

Sosiale fobie: Dit word ook sosiale angsversteuring genoem. Die persoon het ’n vrees vir ander mense of sosiale situasies en is so verleë en selfbewus in ander se teenwoordigheid dat so ’n persoon alles sal doen om só ’n situasie te vermy of om nie met iemand te praat nie.

Agorafobie: Die persoon is vreesbevange om sy huis of “veilige” plek te verlaat. Dit kan met paniekaanvalle gepaard gaan. “Hierdie angs kan aangevuur word deur spesifieke fobies soos ’n vrees vir kieme, openbare plekke en winkelsentrums.”

Simptome en diagnose

’n Diagnose moet deur ’n kundige en gekwalifiseerde persoon gemaak word.

Daar moet ’n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende, irrasionele vrees wees wat deur ’n spesifieke objek of situasie geaktiveer word. (Kinders sal hul vrees wys deur te huil, ’n vloermoer, deur aan iemand vas te klou, of te vries.)

Blootstelling veroorsaak onmiddellike angs, wat fisiek waarneembaar is. (Huil, paniekaanvalle.)

Die situasie of voorwerp word aktief vermy of met intense vrees of angs verduur.

Die angs- of vreesreaksie is buite verhouding tot die ware gevaar.

Die vrees, angs of vermyding is langdurig en kom reeds vir ten minste ses maande voor.

Dit veroorsaak aansienlike ongemak en het ’n negatiewe invloed op die persoon se funksionering.

Is behandeling nodig?

Beslis ja. Juis omdat dit “ ’n ernstiger graad van angs is”. Behandeling deur ’n kliniese sielkundige, of ’n sielkundige met spesifieke ervaring van fobies, of wat ook kundig is oor spelterapie, word sterk aanbeveel.

Behandeling kan met medikasie ondersteun word. Gewoonlik sal ’n behandelingsplan opgestel word en sal die persoon leiding kry ten opsigte van leefstylkeuses, soos om gereeld te oefen, genoeg te slaap en gebalanseerd te eet.

Nog ’n manier van behandeling is blootstellingsterapie waar jy jouself “sistematies aan die fobie blootstel, terwyl jy jou liggaam leer om te ontspan”. Dit is ’n proses wat met uiterste omsigtigheid hanteer moet word omdat dit tot meer angs kan lei.

Wat om nie te doen nie

Hoe om nie iemand met ‘n fobie te hanteer nie
’n Fobie kan nie met logika hanteer word nie; dit help nie om met die persoon of kind daaroor te redeneer nie. Dit het niks met intelligensie te doen nie. Die persoon is baie bewus van sy irrasionele fobie, maar kan homself nie help nie en kan nie sy gedagtes beheer nie.

Moenie ongeduldig word nie. Daar is nie ’n oornagoplossing nie en empatie en begrip is nodig. Die persoon of kind is waarskynlik skaam daaroor en voel skuldig omdat hy sy gesin se lewe daardeur beïnvloed.

Onmiddellike blootstelling aan dit waarvoor die persoon ’n fobie het, sal in die meeste gevalle tot meer angs lei. Dit is iets wat stelselmatig en in kombinasie met psigoterapie moet plaasvind.

Hoe kan jy iemand met ’n fobie ondersteun?

Fobies kan jou lewe oorneem en moet daarom ernstig opgeneem word.

Hou in gedagte dat die persoon met die fobie bewus is dat sy vrees irrasioneel is. Moet hulle nie spot, verkleineer of probeer om daaroor te redeneer nie. Moedig die persoon aan om professionele hulp te kry. Omdat die proses moeilik en uitputtend kan wees, kan jy die persoon aanmoedig en ondersteun na die beste van jou vermoë. Niemand kies om vreesbevange te wees nie.

Vir die volledige artikel en bronne, gaan na www.afrikaans.com.

Bron: Afrikaans.com

You need to be Logged In to leave a comment.