Verbeel jou sag gebakte eiers op braaipap bedek met kaas en tuna. Dit klink net so heerlik soos wat dit proe.
Eier is so veelsydig, dat dit in ’n wye verskeidenheid maaltye as fokus-element kan dien.
Ondanks die toename in die prys van eiers weens die voëlgriep, is eiers steeds een van die bekostigbare vorms van proteïene.
Lauren Anceriz van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê eiers op winkelrakke is veilig vir die voorbereiding van kos, as hulle aan die kosveiligheidstandaarde voldoen.
Hier is ’n lekker resep wat vir ontbyt, middagete of ’n ligte aandete kan werk.
Dit is ’n weergawe van die Italiaanse pizza, gemeng met ’n bietjie Afrika-paptert en natuurlik, eiers.
Tuna-en-eierpappizza
Die resep is genoeg vir vier mense vir onder R110.
Voorbereidingstyd is 15 minute.
Gaarmaaktyd is 25 minute.
Bestanddele:
• 750 ml (3 koppies) groenteaftreksel
• 375 ml (1½ koppies) braaipap
• 200 g gerasperde cheddarkaas
• sout en peper na smaak
• 200 g tamatiepuree
• halwe rooi of wit ui, dun gesny
• 170 g tunastukkie in olie, gedreineer
• 50 g pakkie kalamata-olywe
• 4 eiers
• handvol basilieblare
Maak so:
Om die pap te maak, verhit die groenteaftreksel in ’n pan en roer die braaipap by. Laat dit prut. Draai die hitte laer, bedek die pan en kook vir 10 tot 15 minute of tot die vog geabsorbeer is.
Voeg die helfte van die kaas by. Geur met sout en peper en smeer die pap in ’n oondbak van 26 cmx 30 cm.
Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer die tamatiepuree oor die pap en sprinkel die oorblywende kaas oor. Plaas die uie, tuna en olywe bo-oor.
Gebruik die agterkant van ’n lepel om vier holtes in die beslag te maak en breek ’n eier in elk. Strooi sout en peper oor die eiers.
Bak vir 10 minute in die oond totdat die eier gaar is. Strooi die basiliekruid bo-oor.