Waarom sit die skoolhoof op die dak? Omdat die leerlinge van die Laerskool Willem Postma kán spel.
Sakkie Matthee, die waarnemende skoolhoof van dié skool in Dan Pienaar, het ’n weddenskap aangegaan dat as die leerlinge R200 000 insamel in ’n Spelkompetisie, hy ’n dag lank op die skool se dag sal deurbring.
So vanoggend het hy hom met ’n matras en sy skootrekenaar onder ’n gazebo op die dak gemaklik gemaak.
In ’n onderhoud met Benita Jacobs, die skool se bemarker, het hy gesê die kinders is baie opgewonde oor meneer wat op die dak sit.
“Dit kan ook iets te doen hê met die sak sweets wat ek hier by my het waarvan ek ’n paar af en toe afgooi,” het hy gegrinnik.
Die spelkompetisie waar mense die leerlinge per woord wat hulle reg spel geborg het, het in September begin en in Oktober ten einde geloop.
Matthee sê hulle het verskeie mikpunte gestel en as die skool by almal kon uitkom, het hy beloof om ’n dag op die dak te sit.
“Vandag is eintlik ’n lekker dag vir so ’n uitdaging,” het hy vroeër vanoggend gesê. “Die windjie is bietjie koel, maar ek is bly dit is nie so warm nie.”