Die Ysbeerswem-uitdaging verlede jaar in die Modderrivier.Foto: Lientjie Mentz


Die 29ste Ysbeerswem-uitdaging vind vanjaar volgens verwagting op vier plekke plaas.

Felix Burri, wat dié gewilde geleentheid ten bate van liefdadigheid aanbied, sê hulle hoop om die gelukbringer wat by al die swemgeleenthede is, Boendoetjie, vanjaar see toe te vat met ’n Ysbeerswem in die omgewing van George, Herholdsbaai en Victoriabaai.

Die Ysbeerswem, wat vroeër jare net buite Ventersburg aangebied is, word die afgelope drie jaar by Aldam by die Willem Pretorius-wildreservaat en ook by Doringbos buite Bloemfontein en by Rogge Cloof buite Sutherland aangebied.

Die Goudveld-geleentheid vind op 29 Junie om 12:00 by Aldam plaas.

Burri sê vanjaar dra hulle dié swemgeleentheid aan die joernalis wyle Alet van der Walt op.

Op Saterdag 6 Julie word die Ysbeerswem buite Bloemfontein aangebied. Die swemgeleentheid begin om 12:00 op Doringbos sowat 35 km buite die stad. Soos verlede jaar word daar ook ’n sosiale rit aangebied waaraan eienaars van viertrekvoertuie kan deelneem. Burri sê hulle hoop dat sowat 200 deelnemers by Bloemfontein sal swem.

Die Rogge Cloof-swem by Sutherland vind op 13 Julie plaas en soos elke jaar word daar verwag dat dit snerpend koud sal wees en dat dit die grootste uitdaging aan swemmers sal bied.

Toegang tot die terrein waar elke geleentheid aangebied word, is R100 per voertuig.

Inskrywing kos R100 per swemmer, en deelnemers moet tien jaar of ouer wees. Elke deelnemer kry ’n medalje.

Rig navrae aan Burri by 082-851-4584.

You need to be Logged In to leave a comment.