Die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein spog met die nommer-een matrikulant in die Vrystaat vir 2025.
Jaco Deysel van dié skool het op Vrydag 16 Januarie die gesogte eerbewys ontvang op die Vrystaatse departement van onderwys se geselligheid om die top-matriekpresteerders te vereer, wat op die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Bloemfontein-kampus aangebied is.
Benewens hierdie prestasie het hy onderskeidings in al sy vakke behaal: Afrikaans (huistaal), Engels (huistaal), lewensoriëntering, wiskunde, ekonomie, fisiese wetenskap, rekeningkunde, inligtingstegnologie en wiskunde (IEB).

“Dankie tog, wat ‘n groot verligting. Ek kan net God daarvoor dank,” was Jaco se eerste reaksie toe hy sy matriekuitslae ontvang het.
“Om die nommer-een matrikulant in die Vrystaat te wees, laat my emosioneel voel. In gr.10 het ek tuisonderrig oorweeg weens boelie-gedrag teen my, en ek het net nie meer daarvan gehou om skool toe te gaan nie. Dit het regtig baie van my geverg om dit te oorkom en aan te hou skoolgaan.
“So om hier te staan en te weet ek het dit oorkom en al hierdie bereik, is ‘n spesiale voorreg en eer vir my gr.10-self en vir wie ek nou is. Ek is trots op wat ek oorkom het sodat ek kan wees waar ek vandag is.
Jaco sien uit na ‘n blink toekoms en gaan aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK) studeer. Sy opgewondenheid oor hierdie nuwe akademiese avontuur is tasbaar, en hy vertel dat hy regtig van die vakke ekonomie, wiskunde en inligtingstegnologie gehou het.
“Ek glo dat dit die perfekte kombinasie is vir dit wat ek met my studie wil bereik”.
Hy meen Bloemfontein is ‘n afgesonderde plek.
“Ek kan nie wag om nuwe mense te ontmoet en al die nuwe geleenthede in Kaapstad aan te gryp nie.
“Een van die ander hoofredes waarom ek Kaapstad gekies het, is die see. Ek wil ‘n verandering van omgewing hê en ek is regtig lief vir die see.”
Jaco vertel sy grootste uitdaging tydens sy matriekjaar was die hoeveelheid ekstra werk wat hy in sy eie tyd moes insit vir Engels huistaal, aangesien dit nie ‘n vak is wat by sy skool aangebied word nie.
Om die senuwees deur die loop van die matriekjaar te kalmeer, meen hy dat die belangrikste is om te geniet wat jy doen.
“Mense het verskillende stokperdjies, maar ek voel my stokperdjies was my vakke by die skool. Ek het dit regtig geniet en dit het vir my nie soos werk gevoel nie. Ek dink wat jy ook al geniet, moet jy balanseer met jou werk.
“Anders as dit, het ek ook daarvan gehou om te lees, tyd saam met my familie en my honde deur te bring; en ek het myself geleer om regtig kalm te bly. Ek dink dit alles was wat vir my die truuk gedoen het.”
Jaco is dankbaar teenoor sy skool en glo regtig dat die skool ‘n waardevolle ondersteuningnetwerk vir hom was. Veral tydens sy matriekjaar het hy Jim Fouché se leuse, “Saai om te oes”, ter harte geneem.
“In matriek het hierdie leuse vir die eerste keer in my hoërskoolloopbaan by my ingesink. As jy saai, sal jy oes. Jy kan nie droomresultate in enigiets verwag as jy nie gesaai het nie.
“My onderwysers het my geleer dat jy nie kan oes as jy nie regtig gesaai het nie, en dit het baie vir my beteken. Hulle het my herinner, wanneer my punte in ‘n toets swakker was, dat jy nie ‘n goeie oes kan verwag as jy nie genoeg gesaai het nie – daar is net een kans en jy moet die beste daarvan maak.
“My prestasies sou nie moontlik gewees het sonder my onderwysers en my ouers nie.”
Jaco se raad aan matrieks, maar ook aan ander leerlinge in die skool, is: “Bly kalm, wees vreesloos en neem kanse. Probeer die dinge wat jy wil probeer, anders sal jy nooit weet of dit vir jou sou kon uitwerk nie.”



You must be logged in to post a comment.