Jaco skrik nie vir draaiboek- uitdaging

Ná twee suksesvolle rolprente wat gemaak is van verwerkings van Bloemfonteinse skrywer Jaco Jacobs se boeke, verskyn daar binnekort ’n vollengte-rolprent waarvan hy self die draaiboek geskryf het.


Ná twee suksesvolle rolprente wat gemaak is van verwerkings van Bloemfonteinse skrywer Jaco Jacobs se boeke, verskyn daar binnekort ’n vollengte-rolprent waarvan hy self die draaiboek geskryf het.

Jacobs, bekend vir die honderde fiksie én nie-fiksie jeugboeke wat al uit sy kreatiewe pen voortvloei, geniet ’n goeie uitdaging.

Hy sê hy was heel tevrede met die rolprente Suurlemoen (2014) en Nul is nie Niks (2017) waarvan sy boek “Suurlemoen!” en “Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word” vir die rolprente verwerk is. “ ’n Mens moet voor die tyd besef die storie is min of meer dieselfde, maar baie is anders in ’n rolprent.”

Tydens die pandemie het Francois Nolte vir Jaco genader om een van kykNET se 50 minute-storiefilms se draaiboeke te skryf.

“Ek het my laat ompraat en vir hulle twee idees gegee,” vertel hy. Daar is besluit om die rolprent In die Koninkryk van Korona te verfilm.

“ Een ding wat ek die afgelope paar jaar geleer het, is dat die maak van ’n rolprent ’n reuse-spanpoging is,” sê Jaco. “By ’n boek is dit meestal net jy en jou uitgewer, maar met ’n draaiboek moet jy baie meer in ag neem.

“Ek hou daarvan om mooi prosa te skryf, maar vir ’n draaiboek is daar soveel meer om op te fokus.”

Intussen het Nolte hom gevra om die ander idee ook in ’n vollengte draaiboek te skryf.

Die Fantastiese Verdwyning van Charlie Prins is intussen deur kykNET verfilm en word op 2 September op dié kanaal uitgesaai.

Jaco sê dit was vir hom ’n lekker ervaring om aan dié draaiboek te werk.

“Ek het baie geleer uit my eerste draaiboek. Ek hou daarvan om ernstige temas met ’n ligte aanslag te pak. Dit is vir my belangrik dat die storie eerlik vertel word.”

Jaco sê ’n mens is anders ná elke boek wat jy lees en fliek wat jy kyk.

Jaco JacobsFoto: Verskaf

Tipies Jaco is daar talle projekte waaraan hy nou werk.

“Ek gaan nie die Groot Afrikaanse Roman skryf nie. Dit is soveel lekkerder om vir kinders te skryf,” sê Jaco. “Jy moet hul aandag die heeltyd hou – vir grootmense kan jy enigiets opdis. Volwassenes is gewoond daaraan om verveel te word – in rye by die supermark, dink maar. Maar om ’n kind se aandag te hou, is ’n heerlike uitdaging.”

Een van die boeke waaraan hy nou werk, is ’n boek met 366 rympies – een vir elke dag van die jaar.

“So ’n paar jaar gelede het ek besluit om dit te doen. Dit was toe ek net begin hardloop het. Ek het vir myself ’n teiken gestel om elke keer as ek gaan draf ’n paar idees uit te dink.”

Nou, baie kilometers later en reeds twee Comrades-ultramarathons op sy kerfstok, gee hy weer so boek uit. Dit is nie ’n boek nie verskyn later vanjaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.