Dit is al jare lank Bloemfonteiner Elmarie Viljoen-Massyn se droom om ’n roman te skryf.
Uiteindelik het sy die geleentheid om haar stempel af te druk – en dit met ’n verfrissende debuutroman, Vuurvoël.
Sewe van dié vryskutskrywer se gedigte het in 2017 in Nuwe Stemme 6 verskyn, maar dit is nou die eerste keer dat sy kan spog met ’n volwaardige roman.
“Die karakters Mark en Riaan het eenvoudig eendag by my opgedaag,” gesels sy oor Vuurvoël.
“Dit het lank gevat voordat ek kon gaan sit en elke dag skryf.”
Sy vertel dat sy aanvanklik nie seker was wat sy wou skryf nie, omdat sy meen daar is genoeg misdaadromans.
“Ek het besluit om oor die farmaseutiese bedryf te skryf. Dit is ’n braakveld met baie moontlikhede,” sê sy.
Elmarie sê haar doelwit met die boek was om te vermaak. Om lesers iets te gee om oor te dink.
Sy kry dit reg om twee uiteenlopende wêrelde, dié van die farmaseutiese bedryf en die nare wêreld van dwelmhandel, se paaie te laat kruis en allerlei donker geheime só stuk-stuk te ontrafel.
Die hoofkarakter is ’n Bloemfonteiner wat ná ’n dekade in Brussel terugkeer na haar geboortestad om in ’n pos by die farmaseutiese maatskappy Experior te dien. Daar is egter meer agter haar aanvaarding van dié pos, en lesers kry ’n kykie in haar verlede en wat haar tot op hierdie punt in die verhaal gebring het.
Vuurvoël is ’n boek met boosdoeners, maar ook mense wat na die waarheid op soek is.
Elmarie gesels op Donderdag 13 Julie om 10:30, op die Vrystaat Kunstefees se Literatuurfees, oor Vuurvoël.
Kaartjies vir die gesprek, wat gelei word deur Thildie Smit, kos R35 en is beskikbaar by die deur by die ATKV-boeke-oase in die Eeufeessentrum.
Staan die kans om Vuurvoëlte wen op Bloemnuusse Facebook-blad.