As jong seun op ‘n fiets het hy ‘n Bloemfonteinse brandweerwa deur die stad gevolg deur die waterspoor wat die eerstehulp-watertenk gemors het, te volg. By elke draai het die streep water die pad gewys na waar die brandweermanne ‘n vuur in die stad blus.

brandweerwa toe hy die museum op 20 Maart
besoek het.
Braam van Zyl van die Mangaung-metro se brandweer en reddingsdienste asook bestuurder van die brandweermuseum in die stad, beskryf oom Bob Hornsby (87) as die Bloemfontein-brandweer se grootste aanhanger.
Hornsby het sy eerste foto’s van die brandweer se drie waens as 12-jarige seun in 1950 geneem.
Sy familie het naby die brandweerstasie gebly en hy het veral Saterdae-oggende graag daar gekuier. Van Zyl verduidelik destyds is al die brandweerwaens Vrydae gewas en blink gevryf en Saterdae is die voertuie voor die brandweerstasie vertoon. Hornsby het ‘n ou bokskamera gebruik om al die enjins af te neem en het al die foto’s aan die museum geskenk.

Hy het nooit self ‘n brandweerman geword nie en het Bloemfontein ook as jong man verlaat, maar deur al die jare was hy in kontak met die brandweerpersoneel en het hulle gereeld besoek. Sy passie vir Bloemfontein se brandweer brand tot vandag nog.
Hornsby se laaste besoek was op Donderdag 20 Maart toe hy die nuutste twee brandweerwaens wat die brandweer in gebruik geneem het, kom afneem het.
Hy het dus al Bloemfontein se brandweerwaens van die afgelope 75 jaar afgeneem.
“Brandweerwaens is duur en unieke voertuie wat spesiaal vir kliënte gebou word,” verduidelik Van Zyl. “In die Vrystaat is daar nou minder as 50 operasionele brandweerwaens,” vertel hy, self ‘n ywerige historikus met ‘n passie vir die brandweer.
In die 75 jaar wat Hornsby betrokke was, het Bloemfontein 36 brandweerwaens gebruik. Elke voertuig het tussen 15 en 33 jaar diens gedoen waarna hulle in die museum gaan aftree het. Drie brandweerwaens is in ongelukke afgeskryf.
Horsnby het nie net die waens afgeneem nie, maar het ook rekords gehou van elke wa se tegniese data, diensrekord en aanwending. Aanvanklik het hy met briewe gekorrespondeer, later jare het hy baie van sy inligting op sosiale media verkry.
Met sy besoek in 1976 het hy die Sentraal-brandweerstasie afgeneem met die vyf brandweerwaens wat voor die stasie gestaan het. Toe hy in 2006 terugkeer is dieselfde vyf voertuie vanuit die museum weer daar geparkeer, plus die vyf voertuie wat hulle vervang het. In 2016 is dié oefening herhaal.
Van Zyl sê die brandweermuseum het verlede jaar baniere laat maak om Hornsby in die brandweer se stalletjie op Bloemskou te vereer. Daarin is die foto’s wat hy deur die jare geneem het. Ongelukkig was hy verlede jaar siek en kon hy nie by die uitstalling wees nie.
Hy kon darem verlede maand met sy besoek die baniere wat sy foto’s van oor die jare heen vertoon, sien.

You must be logged in to post a comment.